Categories: NewsPublished On: 29th June 2010

Slim-plan-fnuik-diewe:-Genees-jou-spilpunt-van-kabeldiefstal

By 3 min read

Verpestings wat die boer se lewe versuur is kabeldiewe en skelm skroothandelaars wat gesteelde spilpuntkabels koop.

Grond, waterregte, toerusting en produksiemiddele is duur en dan kom steel skunnige skelms nog die boer se spilpuntkabel om al sy harde werk ongedaan te maak.

Die boer se skade is tweeledig: Eerstens om die gesteelde kabel te vervang en die spilpunt weer aan die werk te kry en tweedens aan produksie wat verlore gaan terwyl die duur spilpunt sonder kabel staan.

Maar dit is nie al nie. Die boer moet nag vir nag elke nou en dan opstaan om seker te maak dat sy spilpuntkabels nie gesteel word nie. Waarsku ’n duur alarmstelsel hom dat daar gepeuter word, moet hy sy vrou en kinders alleen by die huis laat en sy lewe gaan waag om die skelms te probeer keer.

Om op die polisie te reken om kabeldiefstal te help voorkom, is ’n verlore saak, sê boere. In baie gebiede is die polisie se onwilligheid om teen misdaad op te tree verstommend.

Maar ’n boer maak altyd ’n plan en die vernuftige plan met spilpuntkabeldiefstal kom van Rudi Kirstein van Waterberg Elektries in Vaalwater. Hy en sy span pas regstellende aksie – in die ware sin van die woord – op spilpunte toe om kabeldiewe te stuit.

Hulle monteer netjiese voetstukke bo-op die spilpunt en span gewone staaldraadgeleiers aan isolators sodat jy glad geen duur koperka-bel nodig het nie – en die spilpunt werk perfek.

Die skurke kan van ver af sien dat daar niks aan jou spilpunt te steel is nie en loop steel eerder jou buurman se kabels, want eerlike werk doen om ’n lewe te verdien sal hulle tog nie.

Henk Michau, wat op die Springbokvlakte met mielies, sonneblom, koring, manna en groente boer, was moedeloos oor knaende kabeldiefstal – totdat hy Rudi se stelsel by ’n vriend anderkant Vaalwater gesien het.

Hy het Rudi dadelik gebel om sy spilpunte ook te kom regstel en dit was die einde van kabeldiefstal. “Ek is nou weer ’n boer; nie meer ’n nagwag nie,” verklaar Henk.

Maar dit is nie al nie: Synde ’n ervare en gekwali´Čüseerde kenner van spilpuntelektrisiteit kon Rudi en sy span sommer terselfdertyd ander probleempies regstel, soos om smeltdraadsekerings met klinkskakelaars te vervang sodat jy kan sien as hulle uitgeskop het.

Waterberg Elektries se mense verstaan boerdery en weet dat ’n spilpunt wat staan ’n dooie verlies is. Daarom kom hulle met klaargemaakte monteerbalke op die plaas aan en wikkel met die werk om lag-lag twee viertoringspilpunte per dag reg te stel.

Voordat die eerste plant begin hyg is die spilpunt weer aan die loop – hierdie keer sonder die gevaar van onbeplande ontkabeling.

Sedert Henk se spilpunte reggestel is om diefstal te fnuik, sien hy knaend Waterberg Elektries se voertuie die Springbokvlakte vol draf om regstellende aksie op nog spilpunte toe te pas.

So ingenome is Henk met Waterberg Elektries se diens dat al sy spilpunte reeds reggestel is en dat hy voortaan Rudi en sy span sal naderroep om alle nuwe spilpunte wat hy mag aanskaf sommer van die begin af met monteerbalke en staaldraadgeleiers toe te rus.

In so ’n geval gaan die waarborg vir alle elektriese aspekte van die spilpunt oor na Waterberg Elektries, wat immers spesialiste op dié gebied is. Buitendien is die koste van reggestelde spilpuntbedrading heelwat laer as dié van steelbare kabels.

Die grootste voordeel is dat die boer nou weer snags kan rus en nie meer knaend op en uit hoef te wees of iemand hoef aan te stel om sy spilpunte snags op te pas nie, sê Henk.

Wil jy ook voorspoedig boer en rustig slaap? Waterberg Elektries werk regoor die land. Praat met Rudi Kirstein van Waterberg Elektries by 082-823-9535 of 014-755-3595.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0