Categories: NewsPublished On: 20th January 2011

Slenkdalkoors slaan toe

By 1 min read

Boere in die Bronkhorstspruit-omgewing is gewaarsku om seker te maak dat hulle diere teen slenkdalkoors ingeënt is, nadat die siekte op ‘n plaas in die omgewing uitgebreek het.

Die plaaslike staatsveearts is besig om al die diere van Mabopane-industries by Vlakfontein te ent. Die plaas is onder kwarantyn geplaas. 
 
Boere is per selfoonboodskap gewaarsku om versigtig te wees en indien hulle nog nie geënt nie, om dit so vinnig as moontlik te doen. Entstof is onder andere by Kerkstraat Dierekliniek op Bronkhorstspruit beskikbaar.
 
Vroeër is berig dat die eerste uitbreking van slenkdalkoors vir 2011 by Grootbrakrivier by Mosselbaai aangemeld is.
 
Kundiges het ‘n paar weke gelede gewaarsku dat slenkdalkoors onafwendbaar gaan wees as gevolg van die nat toestande. Dit word deur muskiete van dier na dier oorgedra. Die virus kom onder skape, bokke, beeste en sommige wildsbokspesies voor.
 
Dit kan ook aan mense oorgedra word wat in kontak met die bloed of liggaamsvloeistowwe van geïnfekteerde of dooie diere kom. Die siekte het verlede jaar tot ‘n aantal sterftes onder mense gelei.
 
Alle voorvalle moet aan ‘n staatsveearts gerapporteer word, en mense wat vermoed dat hulle die virus onder lede het, moet dadelik met hulle geneesheer in verbinding tree.
Mnr Willie Botha van Onderstepoort Biologiese Produkte, sê hulle het baie entstof vir diere in voorraad. Daar is lewendige en dooie entstof beskikbaar, asook die nuwe Kloon 13-entstof. Hy sê baie boere het teen die einde van verlede jaar gehoor gegee aan die oproep om in te ent, maar tot dusver vanjaar was dit nog redelik stil.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment