Categories: NuusPublished On: 25th March 2025

Slangman se ‘liefdestaak’ red lewens

By 7 min read
1396 words

Mike 7 Dried Venom From 9 Species of Snakes

Nege verskillende giftige slangspesies se gif is in die houers. Dit is ‘n gevaarlike bedryf wat groot risiko’s inhou vir Mike, maar hy doen dit uit sy liefde vir slange.

As ‘n slang nou pik, is dit tiekets, want op die oomblik is daar nie teengif vir slangbyt vir die noodsaaklike behandeling van mense, vee of troeteldiere wat deur ‘n slang gepik word in die land beskikbaar nie.

Hoewel daar genoeg slanggif vir die vervaardiging van teengif is, ondervind South African Vaccine Producers (SAVP), ‘n filiaal van die Nasionale Gesondheids-laboratoriumdiens  en die enigste instansie in Suider-Afrika wat teengif vir slang-, skerpioen- en spinnekopgif vervaardig, verskeie uitdagings.

Genoeg slanggif is daar inderdaad. Mike Perry van African Reptiles and Venom, wat slanggif aan dié instansie beskikbaar stel, maak al die afgelope 26 jaar seker daar genoeg slanggif is.

Mike se belangstelling in slange kom ‘n lang pad. In 1963 het hy saam met sy ouers vanaf die suidelike voorstede van Johannesburg na ‘n klein plasie 35 km noord van die stad verhuis.

“Ons huis was omring met veld en daar was slange wat summier van kant gemaak is sonder ‘n verduideliking. Niemand wou my vrae oor slange beantwoord nie, toe begin ek maar oplees daaroor.”

Hy het gou besef as hy meer wil weet, sal hy moet begin slange vang, letterlik. En sedert 1965, toe hy 10 jaar oud was, doen hy presies dit. Deesdae het hy genoeg slange en hoef nie meer te vang nie, hy teel sommer self slangetjies vir toekomstige gebruik.

Toe Mike 12 jaar oud was, het hy vir die eerste keer ‘n onderonsie met ‘n slang gehad toe ‘n rinkhals hom in die oë gespoeg het. “Ek het die slang probeer vang maar vergeet om my goggles (veiligheidsbril) op te sit. Daai selfde jaar het ek vir die eerste keer ‘n rinkhals se gif gemelk en 15 g vir ‘n slangpark gelewer wat dit nodig gehad het.”

Sy laerskooldae het hy in ‘n plaasskool naby Leeupark deurgebring en aan ‘n hoërskool in Pretoria matrikuleer voor hy in 1973 vir diensplig opgeroep is. “Ek wou graag veearts word, maar daar was nie geld nie.”

Mike se mediese maatskappy, African Reptiles and Venom, lewer sedert 1999 onder kontrak tot vandag toe slanggif aan die onderneming.

Mike Perry van African Snakes and Venom verskaf slanggif aan ‘n instansie wat teengif vervaardig.

Liefde vir die saak

Toe sy vreemde beroep bekend raak is hy oorval deur mense wat meer oor slange wou weet. Dit het daartoe gelei dat hy in 2000 oral in Afrika begin opleiding gee het in die hantering van slange.  Veral myne in verafgeleë gebiede wat las van slange het, roep gereeld sy hulp in. Die opleiding hou hom finansieel aan die gang, want om slanggif is daar beslis nie groot geld nie.

Die skaars slanggif wat hy met groot versigtigheid en teen ‘n risiko  bekom, dek  net ‘n klein gedeelte van sy jaarlikse onkoste van sowat R2 miljoen per jaar om so ‘n menigte slange aan te hou.

“Ek doen ek die werk eintlik net uit liefde vir my slange, want ek ly groot verliese.” Wanneer hy een maal per jaar slanggif verkoop, kry hy maar R500 000 vir sy moeite, skaars ‘n kwart van die onkoste om die slange aan te hou.

Noue ontkomings

In sy sestig jaar in die unieke bedryf is hy nog net drie keer deur ‘n slang gepik. In 1971 is hy deur ‘n pofadder gepik wat hom ‘n week lank in die hospitaal gehou het. ‘n Jaar later is hy deur ‘n rinkhals gepik. In April 2010 was hy besig met opleiding van ‘n groot groep mense op ‘n verafgeleë myn in Tanzanië toe ‘n yslike woudkobra wat hy van ‘n reptielhandelaar ontvang het, hom deur die sak waarin die slang was aan die hand gebyt het. Dié slag het hy die eerste lit van sy regtervoorvinger verloor omdat dit afgesit moes word.

“Terwyl ek self in die hospitaal was na ‘n slangbyt het ek besef die dokters weet self nie mooi hoe om ‘n slangbyt te behandel nie. Hulle ontvang opleiding – miskien ‘n uurlange lesing – in ‘n hospitaal in die stad waar daar nie slangbyt-pasiënte is nie…”

Slangboerdery

Mike boer letterlik met slange. “Ek het 800 giftige slange op die plaas by Diepsloot  tussen Johannesburg en Pretoria. Elke slang word individueel in ‘n plastiekhouer met ‘n glasvenster gehuisves.

Die slange word in geïnsuleerde vraghouers (vier van 12m en een van 6m) aangehou. Die pofadders, Gaboen-adders, mambas en boomslange word in die houers aangehou.

Hoewel die verkoelingstelsels waarmee die houers toegerus is nie gebruik word nie, is dit belangrik dat die eenhede geïsoleer is sodat daar nie ‘n groot verskil tussen die temperatuur binne en buite is nie.

Hy voer die slange rotte en muise wat hy gevries vanaf telers bekom. Een maal per week ontdooi hy die knaagdiere en voer die slange.

Een maal ‘n maand onttrek hy die gif van die slange, een spesie op ‘n keer. Dit kom daarop neer dat hy ‘n slang se tande oor die rand van ‘n glasbeker haak sodat die vloeibare gif in die beker opgevang word. Dan word dit in steriele monsterbottels van plastiek gegooi en gevries.

Sodra daar genoeg gif geoes is, word die bottel se prop/deksel verwyder en die gif word teen ‘n baie lae temperatuur (-50 °C) vir ses tot agt ure lank in ‘n vakuum gevriesdroog sodat al die vog onttrek word en die gif in poeiervorm is. Die proteïen wat agterbly hou dekades lank in ‘n geseëlde houer. Normaalweg word die gif een maal ‘n jaar aan die teengif-vervaardiger gelewer.

Aanvanklik het hy slange met die nodige permitte van die provinsiale natuurbewaringsinstansies gevang. Omdat nie al die provinsies dit toegelaat het nie, moes hy maar slange van slangparke bekom.

“Aan die begin het dit baie veldwerk behels, of ek het staatgemaak op mense wat slange vang om die reptiele te bekom.” Deesdae teel hy die slange sodat die babaslange wanneer hulle volwasse is die gif kan voorsien.

Perde word gebruik om die teenliggaampies teen die gif te vervaardig. Die perde word met ‘n hoeveelheid van die gif van tien verskillende slange, insluitend rinkhals, pofadder, Gaboen-adder, Oostelike groenmamba, swartmamba, die tropiese Jameson se mamba, Kaapse kobra, wipneus-kobra, woud-kobra en Mosambiek-kobra  ingespuit.

Die perde word byvoorbeeld op ‘n Maandag met drie verskillende soorte slanggif ingespuit, vier verskillende slange se gif op ‘n Woensdag, en nog drie op ‘n Vrydag.  Die volgende week word dit herhaal, so hulle word twee weke lank intensief ingespuit. Na die twee weke word sowat 10 liter bloed van ‘n perd getrek voor die diere ses weke lank rus.

Dié prosedure kan eers gevolg word nadat ‘n perd na nege maande tot ‘n jaar se inspuitings hiper-immuun is.

Nadat die bloed getrek is, moet die bloed ‘n ruk lank staan sodat die bloedselle deur gravitasie van die plasma geskei word. Dan word die teenliggaampies uit die plasma onttrek en die vloeibare teengif word in 10 ml-glas-ampules verpak.

Behandeling: Moenie dit tuis probeer nie!

Gewoonlik word tussen vyf en tien ampules per slangbyt gebruik. Omdat dit ‘n biologiese produk is, moet die serum in ‘n yskas gehou word en koud wees wanneer dit toegedien word. Solank as wat dit koel gehou word, kan dit tot drie jaar lank hou. Die koste van die teengif is sowat R2 500 per ampule.

Nie almal wat deur ‘n slang gepik word, word in ‘n hospitaal behandel nie, en net sowat tien van die ernstigste gevalle uit ‘n honderd word met teengif behandel. Mens kan ook nie jouself met die teengif inspuit nie, dit verg ‘n deskundige se hulp.

Omdat die perde-serum is wat ingespuit word, veroorsaak dit soms ‘n allergiese reaksie in pasiënte. Die reaksie kan ernstiger wees as die slangbyt wat kan lei tot anafilaktiese skok wat ook dodelik is.

Volgens Mike verskaf sy maatskappy African Reptiles and Venom die gif, maar het verder niks te doen met die vervaardiging of verspreiding van die teengif nie. South African Vaccine Producers (SAVP)vervaardig die teengif en verkoop dit aan mediese groothandelaars, hospitale en dies meer.

Volgens Mzi Gcukumana van die Nasionale Gesondheid-laboratoriumdienste word hard gewerk daaraan om die SAVP-fasiliteit se werksaamhede so gou moontlik te hervat.

Kontakbesonderhede

Vir meer inligting, kontak Mike Perry by mike@africanreptiles-venom.co.za

Bronverwysings

Ellis, E. (2025) ‘Nightmare crisis’ — SA’s National Health Laboratories run out of snake, scorpion and spider antivenom. (Daily Maverick)

https://www.dailymaverick.co.za/article/2025-03-04-nightmare-crisis-sas-national-health-laboratories-run-out-of-snake-scorpion-and-spider-antivenom/?fbclid=IwY2xjawJEqHpleHRuA2FlbQIxMQABHQj34oITqSZ0nfaci-lEEpOfr1xagVK9eqVoN7eIMWgIEhFZgY0TYoC63w_aem_8HWrUAzOh1RTRbnT8yZ16w

National Health Laboratory Service

https://www.nhls.ac.za/institutes-subsidiaries/

 

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2