Skole-aartappelwedstryd was lekker pret
Aartappels Suid-Afrika is baie in hulle noppies met die terugvoer van hulle skole-aartappelwedstryd van verlede jaar.
Sowat 50 skole het met mekaar meegeding om mooi groot aartappels te verbou.
“Daar is van skole verwag om die groei van hulle aartappels vanaf plant tot oes te monitor”, sê Etienne Booyens van Aartappels Suid-Afrika. Hulle moes bewys daarvan lewer deur foto’s of videos te neem en dit aan ASA te stuur.
“Ons wou sien dat hulle aartappels groei en ook dat die leerders aktief by die kompetisie betrokke is. Ons is verjeug met die reaksie en voel positief dat ons doelwitte met die kompetisie bereik is”, het hy bygevoeg.
Van die doelwitte van die wedstryd was om die kinders op ‘n prettige manier laat leer. Die organisasie wou egter ook ‘n positiewe verbintenis met aartappels skep en ‘n lojale toekomstige mark vir die produk verseker.
Highbury Prep-skool in Durban het die eerste plek verower en Bay Laerskool in Houtbaai die tweede plek.
Aartappels Suid-Afrika oorweeg dit om die wedstryd ‘n jaarlikse gebeurtenis te maak om aartappelverbruik op skoolvlak aan te moedig.