“Skiet die boer” stel boere in gevaar
In gewelddadige omgewings kan mense maklik deur opruiende musiek verder aangespoor word. Liedjies wat geweld goedpraat of wat mense of groepe uitskel as honde kan die jeug sodanig beïnvloed dat hulle glo geweld is reg, al gaan hulle nie dadelik oor tot geweld nie.
Dit was deel van die getuienis van prof Christiaan Bezuidenhout, kriminoloog en kenner van die invloed van musiek op jongmense in Afriforum en TLU SA se hofaansoek om Julius Malema en die ANC se gewraakte kreet, “Skiet die boer” as haatspraak te verklaar. Prof Bezuidenhout is die eerste getuie wat TLU SA geroep het en hy het ook onder meer getuig dat dit tans gevaarliker is om ’n boer in Suid-Afrika te wees as om ’n lid van die polisie te wees.
Hy sê dat plaasmoorde eintlik ‘n spesiale kategorie misdaad behoort te wees. Die plaasmoorde in Suid-Afrika is 700 keer hoër as in die res van die wêreld.
As ‘n plaasmoord plaasvind, sal produksie op die plaas in 99 persent van die gevalle tot stilstand kom, en elke plaasmoord kos die staat R2 miljoen. Die risiko om op ‘n plaas vermoor te word is tot 30 keer hoër as in die res van die gemeenskap. Die aanvalle is bowendien buitengewoon gewelddadig.
Adv Roelof du Plessis SC het daarop gewys dat in terme van plaaslike en internasionale wetgewing die bedoeling van die persoon wat haatspraak pleeg, van mindere belang is en dat daar eerder gelet moet word op die invloed van die haatspraak op die persoon of gemeenskap wat benadeel voel.
Prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het op sy beurt getuig oor die verskillende betekenisse van die woord boer wat al in die begin van die 18de eeu gedurende die Groot Trek ontstaan het. Hy sê die afgelope dekade het die begrip Boer veral onder jonger Afrikaners ‘n nostalgies-heroïese betekenis gekry. Daarmee word nie verwys na apartheid nie, maar wel na die heroïese geveg teen die imperiale owerheid van Brittanje.
Prof. Goosen het getuig dat Afrikaners die dreunsang van mnr Julius Malema as skokkend ervaar.