Categories: NewsPublished On: 12th September 2011

Skiet die boer is verbode

By 2 min read
333 words

TLU SA het die uitspraak van Regter Lamont dat die “skiet die boer”-lied haatspraak is, verwelkom. Die president van TLU SA, mnr Louis Meintjes, sê dit gee gestalte aan die organisasie se pogings om haatspraak uit die Suid-Afrikaanse samelewing te verban en sodoende ’n bydrae te maak om die geweldadige viktimisasie van landbouers en plaasbewoners te stop.  

TLU SA het ’n beroep op die ANC en Julius Malema gedoen om die uitspraak te aanvaar, die vete te beëindig en om vreedsame naasbestaan en wedersydse respek tussen ras- en kultuurgroepe te bevorder. Die tyd om die verlede se gevegte ter syde te stel het aangebreek.

TLU SA doen ’n beroep op die regering om in die lig van getuienis wat gelewer was, opnuut aandag te gee aan geweldsmisdade op plase en kleinhoewes asook ander misdade wat die volhoubaarheid van landbou bedreig. Dit is indringend noodsaaklik dat die werklike omvang daarvan sigbaar kan raak en indien die SAPD in staat is om detail by te hou van aanvalle teen lede van die SAPD, behoort die instandhouding van ’n soortgelyke databasis vir plaasaanvalle ewe haalbaar te wees. Die owerheid word opnuut versoek om oorweging te skenk aan die instelling van ’n spesiale eenheid wat teen sulke misdade kan optree.

TLU SA spreek sy dank uit teenoor die lede van sy regspan onder leiding van Adv Roelof du Plessis SC wat ondanks onverdiende kritiek in die media hulself uitmuntend van hul taak gekwyt het. Ten spyte van kommentare uit velerlei oorde, het toepaslike getuienis en deurdagte argumentering vrugte afgewerp wat tot voordeel van die samelewing in geheel is.

TLU SA sal voortgaan om met die middele tot sy beskikking in die bres te tree vir privaatbesitreg en die grondwetlike regte waarop sy lede aanspraak maak. Mnr meintjes sê: “Ons sal voortgaan om teenstand te bied teen diegene wat voedselsekerheid op risiko plaas asook daardie magte wat die veiligheid van die landbougemeenskap bedreig.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0