“Skiet-die-boer”-is-‘n-kreet
‘n Musiekkundige, dr Anna-Marie Gray het in die hooggeregshof in Johannesburg getuig dat “skiet die boer” of “awudubhule ibhunu” nie ‘n lied is nie, maar ‘n kreet. Sy sê ‘n kreet is baie meer bedreigend as ‘n lied. ‘n Lied bevat byvoorbeeld nie sekere herhalings en bewegings wat mense ongemaklik maak nie.
Dr Gray is deur Afriforum geroep om te getuig in die haatspraak-saak teen Julius Malema en die ANC wat die strydkreet openlik ondersteun. Sy sê ‘n kreet skep ‘n meesleurende atmosfeer wat mense kan beinvloed om dinge te doen.
Hoewel sy ‘n studie gedoen het oor sogenaamde “struggle”-liedjies, het sy die kreet eers die laaste paar jaar gehoor toe Malema dit begin sing het.
Malema het gister voor die hof aan sy groot groep ondersteuners gesê dat dit nie hy is wat verhoor word nie, maar die rewolusie. Terwyl die saak oor die strydkreet binne die hof aan die gang was, is dit luidkeels buite geskree.
Ernst Roets, adjunk-president van Afriforum, het onder meer getuig dat die woorde vyandskap in Suid-Afrika veroorsaak en dat Malema ‘n rassis is. Die saak duur voort.