Skape-wen-met-nuwe-soort-halsband
Uitgebreide proewe met die E-shepherd-halsband om skape teen roofdiere te beskerm, is pas afgehandel en die resultate lyk belowend. Nie een skaap in die toetsgroep wat die halsbande aangehad het, is in die tydperk van 36 weke gevang nie.
Die ontwikkelaars van die halsbande skryf in hulle toetsverslag dat skape se hoofbeskerming teen natuurlike vyande soos jakkalse, rooikatte, luiperde, bobbejane en selfs bosvarke in die kudde lê. ʼn Trop skape het die voordeel dat dit roofdiere verwar en ook die risiko van besering vir die aanvaller in die malende trop verhoog.
Die E-Shepherd stelsel is ontwikkel om roofdiere te ontmoedig om skape aan te val. Die gedagte was om skape in die persepsie van die roofdier ʼn moeilike prooi te maak en daardeur die dieetgewoontes van die roofdier te verander. Die produk is vir Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel, maar kan ook vir omstandighede in ander lande aangepas word.
Die nekband word van ʼn lugdeurlaatbare materiaal gemaak wat die risiko van swam-infeksie verlaag. Aan die band is ‘n mikrorekenaar geheg. Die stelsel word geaktiveer deur die skaap se beweging. Sodra die dier se beweging buite die normale bewegingsraamwerk val, word ‘n hoë-frekwensie alarm geaktiveer sowel as ʼn flikkerende stroboskopiese lig. Die stelsel word aangedryf deur ʼn ingeboude battery wat ten minste vir nege maande sal hou, afhangende van die aantal aktiverings van die eenheid.
Volgens die toetsverslag is die toetsbande is so geprogrammeer, dat daar ook ʼn geheue-element is om al die aktiverings te monitor. Dit maak akkurate chronologiese waarneming van voorvalle moontlik. Aanvalle deur roofdiere kon bevestig word deur die gelyke aktivering van drie of meer nekbande. Normale plaasdrywighede soos dosering is uitgeskakel deur deeglike rekordhouding.
Die doel van die studie was eerstens om die doeltreffendheid van die E-Shepherd -stelsel onder gekontroleerde toestande met betrekking tot roofdier-afskrikking te meet. Die tweede doel was om seker te maak dat die stelsel nie nadelige gesondheidsinvloede het op die diere wat juis beskerm moet word nie.
Vir die toetsing is daar op ʼn kommersiële skaapplaas in die Kroonstad-distrik besluit. Die plaas het ʼn gedokumenteerde rekord van roofdierverliese in vorige jare gehad. Dit beslaan ʼn oppervlakte van 1 520 hektaar met ʼn kudde van 1 092 skape. ʼn Totaal van 100 geskeerde jong Merino-ooie is vir die toets gekies. Hierdie ooitjies was almal van die vorige lamseisoen afkomstig, en is op die plaas geteel.
Die diere is geweeg en toe in twee groepe van 50 skape elk verdeel. Een groep sou dien as die proefgroep en die tweede groep as die kontrolegroep. Toetsgroep 1 het werkende nekbande ontvang en toetsgroep 2 het fop nekbande ontvang.
Die verhouding van nekbande tot skape was 1:10. Die proef- en kontrolegroepe is aan dieselfde toestande onderwerp met ʼn afstandsverwydering van ten minste een kilometer tussen hulle. Die twee groepe wis tussen toetsfase een en toetsfase twee omgeruil, om beide groepe aan presies dieselfde omgewing bloot te stel.
Daar was ook ‘n onbehandelde kontrolegroep van 892 diere – toetsgroep 3.
Uitslae
Geen skape in beide toetsgroep 1 of toetsgroep 2 is tydens die toets-tydperk van 8 maande deur roofdiere gedood nie. Roofdier- aanvalle is deur die aktivering van 3 of meer eenhede tydens dieselfde tydgleuf bevestig. Die totale verlies van 9 skape deur roofdiere is in toetsgroep 3 aangeteken. Hierdie syfers is met ʼn verlies van 34 skape in dieselfde periode van die vorige kalenderjaar vergelykbaar.
Geen verskil in die kliniese gesondheid van toetsgroep 1 en toegstroep 2 kon waargeneem word nie en geen nadelige insidente is tydens die toetse aangemeld nie. ʼn Gemiddelde gewigstoename van 28,62 % is vir toetsgroep 1 aangeteken, vergeleke met 20,55 % vir toetsgroep 2, soos gemeet oor ʼn 18 week-periode. Hierdie syfers bevestig dat die stelsel nie die diere se gesondheid nadelig beinvloed het nie.
Die feit dat daar in toetsgroep 2 ook geen skape dood is nie, kan waarskynlik verklaar word deur die reikwydte van die bande wat aansienlik hoër is as wat aanvanklik gemeen is.
Ander interessante inligting wat na vore gekom het is dat twee tipes aktiverings op die elektroniese rekords onderskei kon word. Die eerste was ʼn hoë-snelheid, kort aktivering en die tweede was ʼn langdurende aktivering. Die twee aktiverings blyk ooreen te stem met rooikat- en jakkals-aanvalle. Hierdie insidente word by etlike gevalle deur visuele waarneming van die boer self bevestig.
Nekband-aktiverings as gevolg van roofdier-aanvalle, dui ook op ʼn patroon wat die maansiklusse volg. Uit insidente blyk dit dat die hoogste aktiwiteit tydens nuwe maan en daarna tydens die eerste en derde kwartier voorkom. Byna geen aktiwiteit is tydens volmaan aangeteken nie. Hierdie tendens is duidelik oor die totale periode van 8 maande gemeet.
Meer inligting is beskikbaar op www.eshepherd.biz
Bron: Toetsverslag