Categories: Resource managementPublished On: 14th December 2016

Shell beloon veilige vervoer van diesel

By 4 min read
758 words
Shell

shell-des

deur Anina Peens

“Ek is ’n trokdrywer, want my pa was ’n trokdrywer en my broer ook, so dit is ons trots en dit is wat ek wil doen.” Dean Wicks staar senuweeagtig voor hom uit. Op die toetsbaan voor hom is ’n kollega besig om die reuse dieseltrok agteruit tussen ’n paar konkas en kegels deur te parkeer. Dean kners op sy tande, want sy beurt is volgende. “Ons hou nie eintlik daarvan om as trokdrywers beskryf te word nie,” sê hy.

“Ons is handelsmerk-verspreiders vir Shell, nie net sommer enige trokdrywers nie.” Dean is een van sestien finaliste van die jaarlikse Shell Handelsmerk en Brandstofverspreiderskompetisie waarin vragmotorbestuurders landwyd gekeur word op grond van hulle vernuftigheid agter die stuurwiel. Die doel van die kompetisie is om vragmotorbestuurders te begeester om die handelsmerk uit te dra as een wat fokus op padveiligheid en om diesel veilig te lewer tot by Shell se verspreiders aan die uithoeke van die land. Dit stel die verspreiders daartoe in staat om ook die landbou se wiele aan die rol te hou.

Die deelnemers is ’n opgewekte groep wat trots is op die feit dat hulle deel vorm van die room van Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders wat een maal per jaar bymekaarkom om werklik hulle staal te wys. As deel van die uitdaging moet die vragmotorbestuurders daarin slaag om ’n tameletjie van ’n toetsbaan met verskeie struikelblokke te oorkom. Dit sluit ’n paar groot uitdagings in. Een daarvan is om ’n vragmotor met ’n enkelas asook ’n gelede vragmotor tussen die struikelblokke op die toetsbaan deur te vleg en om hom daarna reg te parkeer sodat hy nie aan enige padlyne raak nie. Die posisie van die vragmotor se neus ten opsigte van die lyne word dan baie presies gemeet en punte word daarna toegeken.

Hulle moet ook wys hoe hulle met albei vragmotors agteruit ry en parkeer, netjies tussen die lyne. Hulle mag glad nie hulle koppe by die vensters uitsteek om te kyk of te korrel nie – net die truspieëltjies mag gebruik word. Daarna word daar punte gegee vir die bestuurders se vernuf op die bedrywige N2-hoofweg tussen Durban en Umhlanga in KwaZulu-Natal.

“Laat ek nou vir jou sê, ek ken ’n trok!” lag Keith Adriaanse opgewonde, “maar weet jy hoe moeilik is dit om daai ding met sy kalfie te tru?” Die senuwees was teen etenstyd aan flarde, maar na die kompetisie kon die manne heerlik gaan ontspan by die luukse Elangeni-hotel op die Durbanse hoofstrand. Die wenner is by ’n swierige feesmaal aangekondig en die petrolreus se bestuurskorps was daar om hulle geluk te wens en te bedank vir hulle bydrae tot die maatskappy se beeld met betrekking tot veiligheid.

Die Topverspreiders se eienaars het ook kom aansit ter ondersteuning van hulle topdrywers. Twee van Triangle Fuel van Blackheath in die Wes-Kaap se vragmotorbestuurders is bekroon: Lionel Bergman in die eerste plek en Norman Williams in die derde plek. Len Stoffberg van Moov, ook in die Wes-Kaap, het die tweede plek ingeneem. Elkeen van die ander deelnemers het ’n sertifikaat ontvang en na die formaliteite kon die trokdrywers skouers skuur met die Suid-Afrikaanse topbestuur van Shell.

“Dit is moeilik om soms vir lang tye van die huis af weg te wees,” vertel Mphikeleli Ndumo, van Sebokeng Fuels in Vereeniging. “Maar ek sou op geen ander manier die land so kon deurkruis nie. Ek kon leer van soveel plekke wat ander mense nooit sal sien nie. Wanneer ek die langpad vat, is dit net ek en myself. Ek skakel gewoonlik nie eers die radio aan nie, net dalk soms vir bietjie agtergrondmusiek, maar dit is ek en my dink en die natuur. Die verre paaie lei jou na onontdekte mooi dele, van die see tot die Karoo. Ek kyk graag af in die klein motors onder my, want van daar bo af kan ek alles sien, en ’n mens leer… ’n mens leer van mense.”

Shell se vragmotorbestuurders reis elke jaar altesaam sowat 29-miljoen kilometer om brandstof tussen groot en kleinhandelaars te versprei. Dit is ’n werk wat dié topbestuurders beskou as ’n seëning en plesier.

Boere kan gerus by hulle naaste Shell-verspreiders aanklop om ook die voordele van veilige en tydige aflewering van diesel te geniet, tot op plaasvlak.  Besoek www.shellsa.co.za om uit te vind wie is jou naaste verspreider.

 

Shell

Die drie wenners gloei van trots: Norman Williams van Triangle Fuel (derde), Len Stoff berg van Moov (tweede) en Lionel Bergman, ook van Triangle, is die wenner.

Shell

Die wedstrydreëls word aan die deelnemers verduidelik.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0