‘Seuntjie van Gravelotte’ kry eredoktorsgraad
“Ek is maar ՚n gewone outjie, ՚n seuntjie van Gravelotte. Ek kan dit nog nie glo nie, kan dit waar wees?”
So sê Piet Warren (76) wat deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vereer word met ՚n eredoktorsgraad in Filosofie en Bestuur vir sy rol in die bewaring van die laaste oorblywende swartwitpense en die ontwikkeling van die dier se genetika tot een van die mees gesogte wildspesies in SuiderAfrika, asook die bemagtiging van beesboere in die Giyani-omgewing van bestaansboere tot vooruitstrewende beesboere. Piet, wat in 1964 aan Hoër Landbouskool Merensky in Magoebaskloof buite Tzaneen in Limpopo gematrikuleer het, is een van slegs drie mense in landbou wat nog op die wyse met ՚n eredoktorsgraad vereer is: die ander twee is Boland Coetzee, Springbokrugbyspeler en wynboer van Stellenbosch, en die groenteboer Tommie van Zyl van ZZ2.
Piet sê: “Ek het nog nooit iets gedoen om iemand te beïndruk nie – wat ek gedoen het was gerig op my eie voordeel.” Sy pa, alombekend as “Oom John”, was ՚n beesboer wat op ՚n Donderdag elke derde maand beeste met Vleissentraal se geld op Benstore (later Giyani) gaan koop en aangejaag het Mooketsi toe.
Gaza Beef
Toe Piet die Gaza Beefvoerkraal in 1982 begin het, was daar meer kalwers en osse as koeie in die omgewing. Per 100 000 beeste was sowat 40 000 koeie, 30 000 kalwers en 30 000 osse. Piet het ՚n abattoir begin waar hy ՚n vaste bedrag vir jong beeste met A-graad vleis, asook ՚n aansienlike laer vaste bedrag vir ouer beeste betaal het.
“Ek het R15/kg vir ՚n ou os van sê maar 400 kg betaal, maar R25/kg vir ՚n kalf van 250 kg. Vandag koop Gaza Beef, afhangend van hoe ՚n goeie jaar dit is, tussen R40-miljoen en R70-miljoen se beeste aan.” Die stelsel het daartoe gelei dat die samestelling van die gebied se beeskudde verander het sodat 60 000 uit 100 000 beeste koeie, 30 000 tot 40 000 kalwers en 10 000 tollies van jonger as 18 maande is. Dit het baie van die boere gehelp om van bestaansboere tot kommersiële beesboere te ontwikkel, want Piet maak nie onderskeid tussen die verskaffers van die beeste nie en betaal almal dieselfde prys.
“Destyds het die boere boggerôl vir die osse gekry. Vandag kry hulle ՚n super prys as die kalf se horings minder as ses duim lank is; as dit langer is, word hulle ՚n prima prys betaal. Daar is nie meer osse nie en die voerkraal slag net A-graad.”
Piet voer net meer as 4 000 beeste op ՚n keer en slag hulle by sy twee abattoirs. Omdat dit ՚n bek-en-klouseergebied is moet alle beeste geïnspekteer word voordat hulle geslag word en aan slaghuise in die omgewing voorsien word. So het hy ՚n waardeketting binne die beheersone geskep wat die gebied se beeste kommersiële waarde gegee het.
“Wat goed is vir Piet Warren, is goed vir almal, want die stelsel het vir die omgewing geld gemaak en so almal bevoordeel.” Maar hy het dit nooit gedoen om iemand te beïndruk nie. “Ek doen wat ek doen en daar is nie ՚n debat nodig daaroor nie.”
Piet vertel wanneer ՚n koei kalf, word ՚n bulkalf ՚n “Piet Warren” of ՚n “Makhoma”, Piet se Tsonganaam wat “om te hou” beteken, genoem, want hy is bestem vir Piet se voerkrale. Piet kon immers Tsonga praat voor hy sy pa John se Engels en sy ma Tienie se Afrikaans kon praat.
Kopskuif
Piet, wat al bykans twintig jaar lank chemoterapie vir kanker ontvang, is dankbaar vir die vol lewe wat hy gehad het. “Dit was ՚n verskriklike ding, ek het die afgelope 19, 20 jaar al 30 liter se chemo gehad. Dit het ՚n kopskuif geverg om moed te hou en aan te hou.” “Ek het om my gekyk om te beoordeel hoe dit wat ons in Suid-Afrika doen vergelyk met wat in Afrikalande soos Zambië, Zimbabwe en selfs Oeganda gebeur. In Oeganda het ek tydens ՚n landboutoer saam met die destydse minister van landbou gevra om na ՚n abattoir geneem te word.
“Toe die man die voertuig se venster oopmaak en buitekant rondkyk, dog ek hy het my seker verkeerd verstaan: ek wil na ՚n abattoir toe gaan! ՚nee,’ sê hy. ‘Ek kyk waar die aasvoëls draai…’”
Ervarings soos hierdie het sy denke en optrede beïnvloed. “Ek het anders gedink oor hoe om die toekoms vir almal groter te maak. My werkers het lank voor BEE al ’n elf persent aandeel in Gaza Beef besit. Dit was ՚n goeie plan om lojaliteit te beloon.
“Die aandeelhouers het my gevra om vanjaar se dividende te bêre sodat hulle in Desember en Januarie elke maand twee tjeks kan ontvang. Ek respekteer almal, en hulle respekteer my.”
Nalatenskap
Deel van Piet se nalatenskap is dat hy die boere van Giyani ՚n geleentheid gegee het om hulle beeste teen markpryse te bemark. Dit is vir hierdie bydrae tot die ekonomie van die Mopanie-streek dat Piet deur Unisa met ՚n eredoktorsgraad vereer word, sê prof Moloko Sepota, die waarnemende registrateur van Unisa.
Piet word ook vereer vir sy volgehoue werk om die swartwitpens se voortbestaan in die gebied te verseker en vir die baanbrekerswerk wat hy oor die jare heen met die teel en ontwikkeling van die swartwitpense gedoen het. Van die sowat 30 000 swartwitpense wat in die dertigerjare in die Mopaniegebied voorgekom het, was daar in die negentigerjare ՚n skamele 417 oor. “Trofeejag was in die vyftigs en sestigs onbekend en wild het geen waarde gehad nie. Ons het bokke vir rantsoen en huislike gebruik gejag,” vertel hy.
Toe die wet verander en plase omhein kon word, is waarde geskep omdat die boer ՚n inkomste uit die wild op sy plaas kon verdien. Aanvanklik het hy groter bulle met langer horings vir die lonende trofeejagbedryf begin teel. Dit het tot gevolg gehad dat die gemiddelde jagbare swartwitpens oor 25 jaar gegroei het vanaf 37” tot die huidige 47” en met baie besondere teelbulle waarvan die horings nou heelwat langer as 50” is. Die ontwikkeling van die swartwitpens-genetika het in 2013 aan Piet Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Presidentstoekenning besorg. “Ek beskou dié toekenning as die grootste erkenning wat ek nog ooit ontvang het.” En nou kry hy ՚n eredoktorsgraad.
Nuwe begin
Piet en sy vrou Christine het onlangs na Australië vertrek waar hulle ՚n nuwe fase van hulle lewe begin. Die egpaar se twee kinders, Zoi en John, en hulle gesinne het onderskeidelik 23 en 18 jaar gelede reeds na Australië emigreer waar hulle met skape boer. Gaza Beef se bedrywighede word met die hulp van bekwame bestuurders voortgesit. Die plaas Josephine, waar die egpaar 40 jaar lank gewoon het, is reeds verkoop.
Piet het ՚n huis laat bou op die renosterplaas, waar hy voortgaan met die teel van dié majestueuse maar bedreigde diere, waarvan min in die nabygeleë Krugerwildtuin en elders in die land in staatsbesit oor is. Dit sal sy hoofkwartier wees wanneer hy op gereelde besoek na Suid-Afrika reis, soos in Februarie volgende jaar wanneer hy die eredoktorsgraad in ontvangs sal neem.
“Ek kan dit nog nie regtig glo dat Unisa vir my ՚n eredoktorsgraad wil gee nie. Dat so ՚n eer my, ՚n seuntjie van Gravelotte, nou te beurt moet val. ՚n Geleerde vriend sê anderdag dis baie, baie raar dat iemand met net matriek – en wat sy hele lewe lank net geboer het – sulke erkenning kry. Ek is maar ՚n gewone outjie …”
*Giyani, voorheen Benstore, is die hoofsentrum in die destydse Gazankulu, ՚n nie-afhanklike gebied wat in 1960 deur die destydse regering vir die Tsonga-en Sjangaan-groepe geskep is.
Verwysingsbronne
Pohl, L. (2023) Piet Warren kry ’n eredoktorsgraad. Letaba Herald https://www.citizen.co.za/letaba-herald/news-headlines/localnews/2023/10/25/piet-warren-kry-neredoktorsgraad/
Raats. J. (2023) Piet word Dok Warren. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/nuus/pietword-dok-warren-20231025
Steyn, T. (2022) Renosterboer emigreer, maar hou vas aan sy renosters. ProAgri https://proagri.co.za/renosterboeremigreer-maar-hou-vas-aan-syrenosters/
Steyn, T., Van Zyl, P. (2017) Master Game Ranchers of South Africa: Passion and Power. JLO Publishing ISBN: 978-0-620-76019-5
Baie geluk Piet. Dié seuntjie van Gravelotte salueer ek.