Categories: NewsPublished On: 31st March 2017

Selfoontoepassing ontwikkel vir persoonlike beskerming

By 2 min read
selfoon

selfoon

Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

“‘n Nuwe slim Suid-Afrikaanse selfoontoepassing is deur SA-SOS, ‘n diensleweringsmaatskappy in die persoonlike beskerming- en noodreaksiebedryf bekendgestel,” sê Johan Wolmarans, die hoofuitvoerende beampte en stigter van die maatskappy.

Hy sê Suid-Afrika het een van die grootste private sekuriteitsbedrywe in die wêreld met 2,5 veiligheidswagte vir elke Suid-Afrikaanse Polisiebeampte. SA-SOS het ‘n innoverende produk ontwikkel wat al hierdie verskillende agentskappe regoor die land aanmekaar koppel en bied ‘n bekostigbare noodreaksiediens aan mense deur die hele land.

Deur gebruik te maak van gesofistikeerde geo-data tegnologie in ‘n vennootskap met TOMTOMTM, ‘n opsporings-, kartering- en GPS-datadiensverskaffer wêreldwyd, kan die naaste private diensverskaffers geaktiveer word om die vinnigste moontlike hulp aan die slagoffers van misdaad, ongelukke, of mediese noodgevalle te verleen.

Johan sê, “SA-SOS verteenwoordig ‘n sprong in diens, stelsels en samewerking om ‘n noodsaaklike en lewensreddende diens aan alle Suid-Afrikaners teen ‘n bekostigbare prys te lewer.”

Die diens stel ook ‘n nuwe sakemodel vir die bestaande nooddienste- en sekuriteitsmaatskappye beskikbaar wat saam met SA-SOS in ‘n vennootskap tree. Deur hierdie diens aan hulle eie kliëntebasis aan te bied in kombinasie met die hulpbronne van soortgelyke diensverskaffers in hulle streek, kan hulle hul eie bedrywighede baie uitbrei. Die uitbreiding van indiwiduele vennote sal ook die geografiese dekking van die diens vir die kliënte verbeter.

SA-SOS is deur Johan Wolmarans en Renier Annandale, ‘n direkteur van die maatskappy, ontwikkel. Met hulle gesamentlike jarelange ervaring in sekuriteit, beheerkamers, die bestuur van veiligheidstelsels en kliëntediens, het hulle geesdrif vir persoonlike veiligheid gestalte gekry in SA-SOS. Die selfoontoepassing is spesifiek ontwikkel om voorsiening te maak vir enige Suid-Afrikaner met ‘n selfoon teen ‘n bekostigbare maandelikse premie.

“Die baanbrekerswerk van hierdie ontwikkeling is die intuïtiewe benadering tot stelsels,” sê Johan.

Die meeste mense hou hulle selfone altyd by hulle wat dit makliker maak om hulle ligging te identifiseer wanneer hulle om hulp roep. Dit neem die bestaande veiligheidsdienste wat andersins uitgebreide dienskontrakte sou verg om hulp te verleen wanneer en waar dit die nodigste is. Die belangrikste eienskap van die SA-SOS diens is ongetwyfeld sy mobiliteit. Waar die meeste sekuriteit vir huise, kantore of voertuie beskikbaar is, bied hierdie program die beskerming van mense waar hulle ook al mag wees wanneer ‘n noodtoestand sou ontstaan.

Volgens Johan is mediese hulp ook ‘n belangrike komponent en SA-SOS is in vennootskappe met Suid-Afrika se top private diensverskaffers met betrekking tot mediese noodgevalle. Belangrike persoonlike inligting word aan die stelsel verskaf tydens registrasie wat dit moontlik maak om dit aan paramedici op die toneel deur te gee.

Die persoonlike beskerming en noodreaksie mobiele toepassing is beskikbaar vir die Smart-, IOS- en Android platforms. “Jou SA-SOS nasionale noodtoestand toepassing sal jou dek deur die hele land,” sê Johan.

SA-SOS kan gekontak word by 087-170-0694.

 

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0