Safex-toon-12%-styging
Al meer boere maak gebruik van Safex om prysrisiko te verminder. Die Johannesburgse Effektebeurs berig dat 2,1 miljoen afgeleide kontrakte op die kommoditeitsmark in 2010 verhandel het. Dit is ‘n 12% styging op die vorige jaar en ‘n rapsie minder as die rekord verhandelings in 2008 toe 2,5 miljoen kontrakte van hand verwissel het.
Witmielies maak 46% van alle graanverhandelings uit, koring 27% en geelmielies 16%.
Mnr Rod Gravelet-Blondin van die JEB se kommoditeitsmark sê die plaaslike mark trek al meer nuwe deelnemers: “Boere en meulenaars verstaan al beter hoe hulle landbou-kommoditeitsafgeleides kan gebruik om prysrisiko in ‘n wisselvallige handelsomgewing te verminder.”
Hy sê: “Aangesien ons in ‘n fisiese leweringsmark is, kan boere hulle pryse vasstel aan die begin van die seisoen, wat beteken dat hulle hulle Safex-prys sal ontvang wat die markte ook al doen, solank as wat hulle by leweringsooreenkomste hou.”
Die groot oes van 12 miljoen ton mielies in 2010 het daartoe gelei dat pryse oor die afgelope jaar met bykans 30% geval het. Wit mielies vir lewering in Julie verhandel nou teen R1 400 per ton. Interessant genoeg is geel mielies wat as veevoer tradisioneel goedkoper as witmielies is, tans sowat R80 per ton meer werd.
Die prysverlaging kan toegeskryf aan die groot oorskotvoorraad van die vorige seisoen en ‘n verminderde vraag na uitvoermielies. Mnr Gravelet-Blondin sê redes vir die groter oes is verbeterde verbouingspraktyke en die gebruik van biotegnologie wat die gemiddelde ton per hektaar oor die laaste 15 jaar laat verdubbel het. Hy meen Suid-Afrikaanse boere is baie meer sake-gerig en professioneel as 20 of 30 jaar gelede.
In die verlede het die regering deur prysbeheer die markrisiko vir die boere bestuur, maar met die deregulering van die markte het die risiko na die boer en die verbruiker verskuif. Safex is in 1995 begin as ‘n meganisme om die risiko in die graanbedryf te bestuur, maar dit het ondertussen ook uitgebrei om kommoditeite soos metale en olie in te sluit.
Die JEB het ook onlangs begin om mieliekontrakte wat nie op fisiese lewering berus nie, te verhandel. Hierdie kontrakte berus op pryse wat deur die Chicago Handelsraad vasgestel word. Die raad is deel van die grootste kommoditeitsmark in die wêreld. Amerikaanse mieliekontrakte verhandel tans teen ‘n R450 premie bo Suid-Afrikaanse witmielies. Die kontrakte is suiwer finansiële instrumente wat waarskynlik meer beleggers van buite die bedryf sal lok.
Mnr Gravelot-Blondin sê die JEB se Afgeleide Kommoditeitsmark beplan om hierdie jaar voort te bou op die suksesse van die vorige jaar en om meer mense aan te moedig om die geleenthede van kommoditeitsafgeleides te benut.