SA-suiwelmark-groei-met-meer-as-4%-verlede-jaar
Die Suid-Afrikaanse mark vir suiwelprodukte het in 2010 met meer as 4% gegroei. Die Melkprodusente-organisasie sê in sy jongste nuusbrief die vraag na vars melk het volgens die jongste syfers met 4,5% gestyg, die UHT mark het met 5,1% gegroei en die verkope van klaarverpakte kaas het met ʼn merkwaardige 8,6% toegeneem.
Die toename in verkope is teen effens laer pryse as in 2009 gerealiseer. Volgens die MPO-ekonoom, dr Koos Coetzee, is die positiewe groei in die vraag ʼn aanduiding dat die Suid-Afrikaanse mark besig is om by internasionale markte, wat alreeds in 2010 groei teen hoër pryse ervaar het, aan te pas. Soos die omstandighede van verbruikers verbeter, sal die positiewe groei in vraag voortduur – en met die verwagte groei in besteebare inkomste, mag die mark dalk minder pryssensitief as in 2010 wees.
Ondertussen het die MPO hierdie week ses roetevergaderings in Gauteng en Mpumalanga gehou. Mnr Bertus de Jongh, die hoofuitvoerende beampte, het ʼn oorsig van die onlangs-ontwikkelde strategie vir die primêre suiwelbedryf gegee en dr Koos Coetzee het melkprodusente ingelig dat die internasionale ekonomiese vooruitsigte steeds positief is en ʼn gunstige uitwerking op plaaslike marktoestande in die toekoms behoort te hê.
Mev Barbara Bieldt het melkprodusente by die vergaderings in Gauteng oor die nuutste verwikkelinge aangaande sub-standaard en onwettige suiwelinvoere ingelig.
Die MPO sê die vergaderings is oor die algemeen goed bygewoon, ook deur bokmelkprodusente, en is deur lewendige en positiewe interaksie tussen die melkprodusente en MPO-verteenwoordigers gekenmerk. ʼn Aantal waardevolle opmerkings en voorstelle deur melkprodusente sal deur die MPO opgevolg word.