Categories: NewsPublished On: 31st August 2010

SA-mielieboere-in-onmoontlike-situasie:-30%-kan-ondergaan,-waarsku-Standard-Bank

By 3 min read

Plaaslike mielieboere is in ‘n onmoontlike situasie: ‘n grootskaalse plaaslike oorvoorsiening van graan danksy rekordoeste, en ‘n gedeeltelike oplossing vir hulle penarie wat teen Suid-Afrikaanse wetgewing stuit, sê Standard Bank.

Mnr Willie du Plessis, direkteur van Standard Bank Landboubankdienste, beaam waarskuwings van Graan SA dat tot 30% van die mielieboere voor die einde van die jaar kan ondergaan. Hy sê die grootste mielie-oes wat Suid-Afrika nog ooit behaal het – na verwagting meer as 13-miljoen ton – sal ernstige negatiewe korttermyngevolge vir die bedryf inhou.

“Hierdie oes volg na twee ander rekordoeste en sal tot die verhoging van plaaslike mieliesurplusse, en gevolglike dalende mieliepryse, lei. Uitvoergeleenthede is ook beperk omdat internasionale mielievoorrade opgebou is tot ‘n punt waar geen verdere voorraad benodig word nie. Die verstewiging van die rand teenoor die dollar lei tot bykomende kostedruk aangesien dit SA-uitvoere duurder maak.”

Asof dit nie genoeg is nie, sê mnr Du Plessis, het Graan SA se moontlike oplossing om ‘n mielie-uitvoerpoel te vestig om plaaslike voorsieningsdruk te verlig en plaaslike pryse te verstewig, op die rotse geloop as gevolg van die land se anti-samespanning-wetgewing.

“Die Mededingingskommissie het onlangs bevestig dat die uitvoerskema die bepalings van die Mededingingwet sou oortree. Die Kommissie het voorgestel dat aansoek om vrystelling van sommige seksies van die Wet gedoen moet word om vir die dringende behoeftes van mielieboere voorsiening te maak.

“Graan SA het besluit om ‘n aansoek om vrystelling voor te berei, maar die tyd wat daardeur in beslag geneem sal word, sal moontlik die poel onlewensvatbaar maak vir die huidige seisoen. Selfs as die poel die lig sien, sal dit net korttermynverligting bied,” sê mnr Du Plessis en waarsku: “As pryse nie teen Desember styg nie, kan bankrotskap tot 30% van die mielieboere se voorland wees.”

In hierdie stadium van die land se geskiedenis is dit noodsaaklik dat boere toekomsplanne moet maak om met verdere surplusse te handel. Moontlike verligting kan gebring word as uitvoer versnel word of as die moontlikheid om mielies vir die bloeiende biobrandstofbedryf te gebruik – albei moontlikhede wat reeds deur Graan SA ondersoek word.

“Dit is ook noodsaaklik dat produsente in hierdie omgewing hulle brutomarges sorgvuldig oorweeg en gelykbreekpryse moet bepaal wat nodig sal wees om hulle koste te dek. Boere wat in die penarie sit om hulle voorraad teen markpryse te verkoop of om ‘n wag-en-sien houding in te neem, moet dit oorweeg om hulle risiko deur toepaslike bemarkingstrategieë te verminder.

“Boere moet produkte soos landbouproduksielenings oorweeg, wat hulle in wese teen sowel produksie- as prysrisiko beskerm deurdat dit omvattende versekering insluit en help om die produksieprys vas te maak.

“Selfs al word dit nie verwag dat internasionale pryse in die voorseinbare toekoms sal styg nie, kan Suid-Afrikaanse produsente voordeel put uit die beweging van ons nasionale prys tussen invoer- en uitvoerpariteitpryse. As die voorraad na ‘n toestand van meer gebalanseerde vraag en aanbod beweeg, sal ons plaaslike pryse nader na invoerpariteit beweeg, wat in wese ‘n beweging na tot R1 000 kan beteken.

“Oor die lang termyn lyk die vooruitsigte vir die bedryf egter steeds gunstig. Wat nou belangrik is, is dat boere die huidige uitdagings die hoof moet bied deur hulleself so te beskerm dat hulle steeds in die toekoms lewensvatbare produsente kan bly,” sê mnr Du Plessis.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment