SA-en-Argentinië-wil-saam-boer
“Suid-Afrika en Afrika kan nie toelaat dat die Europese-, Amerikaanse- en Asiatiese ekonomiese magsblokke ons ignoreer en irrelevant probeer maak nie,” het dr. Pieter Mulder, Suid-Afrikaanse adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye in Buenos Aires gesê.
Dr Mulder en mnr Julian Dominguez , Argentynse minister van Landbou, Visserye en Voedsel, het ’n dokument met die oog op groter samewerking tussen die twee lande onderteken. Dit het gevolg na gesprekke tussen die ministers oor landbou-verhoudinge tussen Argentinië en Suidelike Afrika. Dr Mulder het Argentinië as ’n gas van die Argentynse regering besoek.
Samewerking tussen lande van Afrika en Suid-Amerika is ook bespreek teen die agtergrond van die veranderende ekonomiese- en landbou-magsbalanse in die wêreld.
Die dokument voorsien groter samewerking tussen Suid-Afrika en Argentinië ten opsigte van landbounavorsing en die uitruil van tegniese landboukennis. Die praktiese uitvloeisel hiervan kan gesamentlike navorsingsprojekte wees oor landbouprobleme wat albei lande as prioriteite identifiseer.
Argentinië se boere het vanweë hulle toegepaste landbounavorsing die afgelope aantal jare daarin geslaag om die land van ’n voedselinvoer- na ’n voedseluitvoerland om te skep. Argentinië se 40 miljoen inwoners produseer tans genoeg voedsel vir 400 miljoen mense.
Na die ondertekening het dr Mulder in sy reaksie gesê dat dit belangrik is dat die bi-laterale handel tussen die twee lande na ’n meer gelyke basis moet ontwikkel.
Hy sê: “Tans is die balans te sterk in Argentinië se guns. Hierdie ooreenkoms moet uitloop op ’n wen-wen situasie vir albei lande en moet die uitvoermoontlikhede van Suid-Afrikaanse boere verder verbeter.”