SA boere woeker in Mosambiek
Sowat 800 Suid-Afrikaanse kommersiële boere het reeds hulle boerderybedrywighede na Mosambiek uitgebrei. Die meeste boere behou hulle belange in Suid-Afrika, maar daar is ‘n hele paar wat fisies verhuis het.
Die samewerking tussen Mosambiek en Suid-Afrika op landbougebied is deur dr Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye verwelkom. Hy sê dit hou voordele vir al twee lande in.
Dr Mulder het onlangs met mnr Antonio Raul Limbau, Mosambiek se adjunkminister van Landbou, in Maputo vergader. Hy sê in ‘n verklaring die gesprek was sinvol en verskeie landbouprojekte wat tussen die twee lande bestaan, is bespreek. Dié projekte sluit in ‘n besproeiingskema in Sussundenga, genetiese verbetering van dié land se veekudde en ‘n beplande suiwel-aanleg.
Mnr Limbau het sy waardering uitgespreek vir die groot rol wat Suid-Afrikaanse boere in Mosambiek speel, ook met betrekking tot die opleiding van plaaslike boere.
Dr Mulder sê die werksgeleenthede wat Suid-Afrikaanse boere in Mosambiek skep kan verskeie probleme in al twee lande oplos.
Hy sê: “Dit verseker groter voedsel- en ekonomiese stabiliteit in Suidelike Afrika en verlig terselfdertyd Suid-Afrika se onwettige immigrante-probleem. Dit bied ook onmiddellike uitbreidingsmoontlikhede vir Suid-Afrikaanse boere, wat vanweë politieke inmenging nie altyd meer in Suid-Afrika moontlik is nie.”