Categories: NewsPublished On: 4th May 2011

SA boere kan Afrika se armoede help verlig

By 2 min read
303 words
Boere wat vertrek is nie ‘n bedreiging vir die land se voedselsekerheid nie, het Minister Joemat-Petterson Dinsdag gesê.
 
Die uitwyk van Suid-Afrikaanse boere sal voedselsekerheid op die vasteland verbeter, het sy op die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling (IFAD)-konferensie in Kaapstad gesê.
 
“Suid-Afrikaners het vaardighede wat hulle plaaslik en elders op die vasteland kan deel.”
 
 “Die regering is nie ten gunste daarvan dat boere sak-en-pak vertrek en Suid-Afrika vaarwel roep nie,” het sy gesê. “Boere moet eerder hulle bedrywighede in ander Afrikalande ‘n verlengstuk van hulle plaaslike boerderye maak”. 
 
Dr Theo de Jager van Agri SA het het verlede maand ‘n beroering veroorsaak toe hy gesê het dat daar tans slegs 37-duisend van die 120-duisend boere van 1994 oorgebly het. Dit is die rede waarom Suid-Afrika deesdae koring invoer en binne-kort vleis sal moet begin invoer, het hy bygevoeg. Misdaad en boerdery-onvriendelike wetgewing is van die redes waarom boere padgee uit die land uit.
 
Voedselsekerheid vir die vasteland van Afrika was hoog op die daglange geleentheid se sakelys. Die konferensie, wat ook deur ander lande se landbou-ministers bygewoon is, het maniere probeer vind waarop landbou ekonomiese groei in Afrika kan bevorder. 
 
Minister Joemat-Petterson het gesê dat daar optimisme bestaan dat Afrika nie net genoeg kos vir homself sal kan produseer nie, maar ook ‘n surplus. Sodoende sal dit ekonomiese groei bevorder en mense se armoede en voedselnood verlig.
 
IFAD, wat in 1977 in die lewe geroep is, is ‘n finansierings-agentskap van die Verenigde Nasies wat poog om armoede in ontwikkelende lande te verlig.
 
Sub-Sahara Afrika is tans steeds die gebied met die hoogste voorkoms van plattelandse armoede en ondervoeding in die Wêreld, het minister Joemat-Petterson bevestig.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0