Categories: NewsPublished On: 16th September 2011

Só het Oupa-hulle geboer: Bemesting van die veld

By 2 min read
Lees ‘n mens ou boerderyboeke, dan besef jy dat die ou boere vervas nie oningelig of dom was nie. Trouens, daar is heelwat wat ons vandag nog by hulle kan leer.
 
In Impala-uitgewery se Boerdery-jaarboek van 1952, skryf WJ Stapelberg (MSc, HOD) van Hoërvolkskool, Heidelberg, oor die verantwoordelike benutting van hulpbronne in sy hoofstuk, Grond- en Veldbewaring.
 
Oor bemesting van die veld het hy die volgende te sê:
 
Dit is twyfelagtig of dit sal betaal om die gewone weiveld te bemes. Kunsmisstowwe is vandag besonder duur en aangesien die natuurlike weiveld so dikwels minderwaardige suurgrasse bevat, kan dit nie sonder meer aanbeveel word om die veld te bemes nie.
 
As die gewone veldbewaringsmetodes toegepas word, sal die grond sy vrugbaarheid gou herwin en ‘n goeie grasbedekking ondersteun.
 
Waar die veld uit voedsame soetgrasse bestaan of waar goeie weidings geplant is, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Die grond se behoeftes aan fosfate en stikstof is besonder groot en dit is bekend dat gras ook hoë versiestes stel aan juis hierdie twee voedingselemente. Baie boere vind dit dus betalend om hulle weiding, veral vir melkbeeste, te bemes.
 
Die misstowwe bestaan gewoonlik uit rufosfate wat betreklik goedkoop is, en ‘n klein hoeveelheid stikstofkunsmis soos ammoniumsulfaat.
 
Die misstowwwe word slegs een keer in drie of vier jaar toegedien en kom dus nie duur uit nie.
 
Dit moet egter onthou word dat bemesting nie kan vergoed vir oorbeweiding en gronderosie nie.
 
Waar boere oogluikend toelaat dat mis in die veld opgetel word vir vuurmaak, is hulle besig om die veld te beroof van sy natuurlike bemesting.
 
Hierdie miskoeke word deur miskruiers in die grond ingewerk, of verrot bo-op die grond en verhoog die vrugbaarheid.
 
Tydens die besoek van dr H Bennet van Amerika aan die Unie, het hy na die stapels beesmis by die hutte van naturelle verwys as een van die mees tragiese verskynsels wat hy hier teengekom het. Is hulle monumente op die graf van ‘n sterwende plaas?
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0