Categories: NewsPublished On: 2nd June 2010

Rotrix laat jou lonender boer en lekkerder slaap

By 4 min read

Dis die ene aksie op Carmel, die plaas van Jacques en Isa Kleingeld tussen Smithfield en Bethuli. Afgesien van die skare slaghoenders wat hulle tot op so gemiddeld 2,1 kg grootmaak, slag, op 28 verskillende maniere verpak en bemark, lewer hulle Dohne-Merino-slaglammers aan die lekkerbek-skaapvleissmullers van die land.

Carmel se drakrag is goed en met so ’n klompie bykomende voer vir ekstra gehalte is die Kleingelds se lammers woerts-warts markgereed. Daardie ekstra voer is lusern, ’n klein hoeveelheid mielies en hawer. Die surplus lusern en mielies word verkoop.

Jacques glo dat ’n goeie boer sy sake so moet reël dat hy so voorspelbaar as moontlik kan boer en daarom het hy twee Rotrix Rainmaker-kruipspuite gekoop om sy gewasse mee te besproei. 

Sommer vanjaar al het die wysheid van dié stap geblyk. Teenoor die vorige jaar se 711 mm, het Carmel tot dusver vanjaar nog net 400 mm reën gekry, maar vir die verskil het Rotrix voortreflik ingestaan.

Carmel het genoeg water vir Jacques se behoeftes en Rotrix benut elke druppel van daardie water ten beste om ’n beter, meer voorspelbare opbrengs te verseker, wat ook beteken dat Carmel se mense lekkerder en sonder onnodige bekommernisse slaap. 

Rotrix werk perfek vir Carmel se omstandighede. Klipbanke en die lê van die grond noodsaak Jacques om op klein, los laslappielandjies te werk waar spilpunte glad nie sal aard nie, maar waar die Rotrix lekker loslit loop om elke vierkante sentimeter sinvol te benut.

Boonop word Rotrix deur waterdruk aangedryf. Dit is veel, veel goedkoper om pype tot by al die verskillende plekke waar hy moet werk aan te lê as peperduur elektriese kabel wat diewe so graag kom steel.

Die gesukkel om kantrol-stelsels van een landjie of strook na ’n ander te skuif is op Carmel ook nou ook iets van die verlede. Jy skuif jou Rotrix gou-gou van een land na ’n ander, net waar jy hom wil hê, omdat hy maklik op ’n bakkie of sleepwa pas.

Rotrix se mense sê een van hulle spuite behoort net reg te wees vir so tien hektaar, sê Jacques. Hy besproei net meer as 25 hektaar met twee en is baie tevrede met die resultate.

Die enigste ding van die Rotrix wat nie vir Jacques lekker was nie, was om die toevoerpyp op Carmel se swaar kleigrond terug te rol. Maar hiervoor het hy gou ’n plan gemaak. Met ’n hidrouliese pomp wat hy op die plaas gehad het en ’n klompie staal het hy ’n katrol agter aan ’n trekkertjie gemonteer en nou doen een man vier se werk in ’n kits.

Die saak werk so: Jy maak jou Rotrix aan die duskant van die land staan en rol ’n staalkabel uit na die oorkant van die land waar jy hom aan ’n pen vasmaak. Nou koppel jy jou watertoevoer en draai die kraan oop.

Die Rotrix se magtige kanonspuite benat ’n strook van 50 meter deeglik. Terselfdertyd dryf ’n straaltjie water ’n bakkieswiel aan, wat deur ’n ratkas die staalkabel inkatrol sodat die Rotrix homself op sy een slee en twee wiele inkatrol na die oorkant van die land toe.

Aan die oorkant van die land loop staan die Rotrix vanself sodat jy hom nie op Buurman se plaas hoef te gaan soek nie. Al wat jy dan hoef te doen, is om die watertoevoer te staak, die toevoerpyp op te rol en jou Rotrix na die volgende baan te sleep waar hy sy skitterwerk voortsit.

Jy kan stel hoe vinnig jy jou Rotrix wil laat loop om bietjie of baie water met een deurloopslag toe te dien. Elke Rotrix kom met drie stelle sproeiers uit. Die grootste een maak die grootste druppels om windinvloed te beperk en die kleinste een die kleinste druppels vir toepassings soos saadbedvoorbereiding vir groente.

Met die keuse van sproeistukke en die drukverstelling wat met ’n klep beheer word, kan jy jou Rotrix stel om reën te maak presies soos jy dit wil hê. En as daar enigiets is waaroor jy onseker voel, kyk jy in die handboek of bel Rotrix se behulpsame slimkoppe.

Dit is vir Jacques lekker dat die Rotrix so logies en eenvoudig is dat jy hom maklik aan die werk kan sit en sodat daar niks is wat verkeerd kan loop nie. Dit verseker doeltreffende, betroubare besproeiing wat die boer tyd gee om sy aandag aan ander sake te wy terwyl die Rotrix pligsgetrou sy werk doen.

Die belangrikste is natuurlik dat die boer moet kan wins maak en daarmee help die Rotrix beslis, verklaar Jacques: “Dit was ’n goeie en lonende sakebesluit om Rotrix aan te koop en die mense se flink diens en kundigheid is ’n welkome bonus.”

Jy kan ook wins maak met Rotrix se doeltreffende besproeiing. Praat met  Jeremy Hewitt by 023-342-3438 of 082-442-1648 of e-pos jeremy@bushwakka.co.za. Besoek ook www.rotrixirrigator.co.za vir meer inligting.
 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment