Categories: Gewasproduksie, MeganisasiePublished On: 25th March 2024

Ripper Tillage laat jou planter goed en glad werk

By 9 min read
1783 words

reveal-row-cleaner

Saadmeter-kalibrering:

Saadmeters kan met tyd begin onakkuraat raak as gevolg van slytasie van komponente. Meters wat nie meer optimaal uitmeet nie veroorsaak dat saad dubbeld geplant word of dat plantspasies oorgeslaan word en uittandrye vorm. Dit veroorsaak dat jou plantestand nie volgens beplanning of verwagting gevestig word nie met groot geldelike skade op die ou end.

Dit is waarom saadmeter-kalibrering uiters belangrik is en indien nodig, die vervanging van sekere komponente in die saadmeter. Ripper Tillage Equipment maak gebruik van ‘n spesiale saadmeter-toetsmasjien om die meter te toets en te kalibreer. Die ideale tyd om die meter te laat toets en kalibreer, is net na plantseisoen. Moenie wag met te kort kennisgewing voor die volgende plantseisoen nie! Ons bied ook oplaai-, en aflaaidienste van jou saadmeters vir die toets- en kalibrasiediens.

Onderhoud van planters:

Die onderhoud van planters is noodsaaklik om te verseker dat die werktuie optimaal werk. Indien jy sou versuim om jou planter gereeld te versien, kan dit ‘n duik in jou bankrekening veroorsaak. Hier is ‘n paar riglyne waarna om te kyk:

  • Ryskoonmakers: Die ryskoonmaker is ‘n baie belangrike komponent wat sy taak voor op die ry-eenheid ordentlik moet uitvoer. Die ryskoonmakers se laers moet nagegaan word om te verseker dat dit vrylik kan draai, sowel as die raam en die bussies om te verseker dat die saad alleenlik in kontak is met die grond.
  • Parallelarms en buseenhede: Dit is ‘n baie belangrike item op jou ry-eenheid waarna omgesien moet word. Wanneer die arms of die buseenhede uitgewerk is, kan dit veroorsaak dat die ry-eenheid nie optimaal werk en glad loop nie. Dit beïnvloed die spasiëring en die plantdiepte van die saad, wat opkoms en stand beïnvloed. Ripper Tillage Equipment kan jou planter se parallel-eenhede vervang, herstel of opgradeer.
  • Keeton-saadvastrapper: Die nuttige komponent verseker dat wanneer die saad die saadbed bereik, dit teen op die onderkant van die saadbed vasgedruk word en enige lugleegte onder uitgedruk word, sodat die saad volle kontak met die vogtige grond het. Kyk mooi na die toestel en maak seker dat dit nie in ‘n V-vorm uitgewerk is nie, want dan gaan dit smeer of grou. Sodra jy sien dat jou toestel uitgewerk is, vervang dit eerder as om langer te wag. Hulle is beskikbaar as ‘n gewone saadvastrapper of die Keeton-lae-stok saadvastrapper. Albei het vloeibuise vir toediening in die plantvoor.
  • Saadbuis: Die saadbuis voer die saad vanuit die saadmeter tot in die plantvoor. Wanneer die saadbuis uitgewerk is kan dit veroorsaak dat die saad nie korrek neergelê word in die grond soos dit moet nie. Die Bull’s Eye-saadbuis is bekend vir sy geharde tungsten karbiedpunt aan die onderkant van die uitlaat wat help dat die buis ‘n langer lewensduur het, en nie so vinnig beskadig word deur die saadwiele wat moontlik daarteen skaaf nie. Let ook veral op na die saadbuisbeskermers en moenie huiwer om hulle te vervang as hulle uitgewerk is nie. Ripper Tillage Equipment het ook hierdie onderdele beskikbaar.
  • Saadoopmakers: Wanneer hierdie twee toestelle op die ry-eenheid uitgewerk is, beïnvloed dit die plantvoor waarin jou saad moet val, wat op sy beurt opkoms en opbrengs raak. Dit is belangrik om voor elke seisoen seker te maak dat jou saadoopmakers op die standaarddiameter volgens jou planter se spesifikasies gestel is. Die spasiëring tussen die twee saadoopmakers is van kardinale belang en daar is afmetingskaartjies beskikbaar om die spasiëring te bepaal en te stel, sodat dit die perfekte V-voor kan vorm. Die oopmakers kan verstel word deur vulplaatjies in sit of uit te haal.
  • Ry-eenheiddrukwiel: Die drukwiel word gebruik om die diepte van die ry-eenheid te bepaal en dit is belangrik om te verseker dat hierdie wiele nie droë grond bo-oor die nuutgeplante saad gooi nie. Dit is belangrik dat al die saad op die regte vogtige grond beland. Bekyk die wiele, sowel as die arms van die wiele om seker te maak dit is nie uitgewerk nie, en maak seker dat die verstelling reg is. Dit moet dig seël teen jou saadoopmakers. Indien nie, kontak Ripper Tillage Equipment om die probleem vinnig en doeltreffend vir jou op te los.
  • Diepteverstelbare arm: Hierdie arm word gevind aan jou stelwiel en die arm se doel is om diepte te beheer. Dit hou ook die stelwiel vas.
  • Toedrukwiel en spasiëring: Wanneer die saad in die plantvoor geplaas en op hulle plek vasgedruk is, kom die toedrukwiel heel agter op die ry-eenheid om die los grond oor die saadvoor toe te vou en ferm vas te druk. Dit is belangrik om seker te maak dat die druk, sowel as die spasiëring op hierdie wiel optimaal is vir jou grondtoestand. Sou dit nie optimaal wees nie, kan dit veroorsaak dat lugborrels agterbly, of dat die saadbed te styf toegevou en gedruk is, dus raak dit moeilik vir die saadjie om deur die grond te beur. Die toedrukstelsel se drukking moet ook eweredig wees oor die plantvoor. Die proses bewaar ook vog vir ontkieming. As dit nie reg werk nie, kan dit opkoms- en opbrengsprobleme veroorsaak. Maak seker daar word omgesien na die eenheid.
  • Meteraandrywingstelsel: Hierdie stelsel werk meestal meganies met kettings en ratte. Wanneer die belyning van hierdie aksie nie optimaal ingestel word nie kan dit probleme veroorsaak met die plantestand. Komponente soos die ketting en tandratte, spanningversteller en katrolle, en die seskantlaers moet in stand gehou word en gereeld ondersoek word. Dit kan jou baie tyd in die land kos wanneer jy staan omdat jy dit nie vooraf nagegaan het nie.
  • Ander versieningswerk: ‘n Planter het baie bewegende onderdele waarna ‘n mens moet omsien om seker te maak alles is met smeermiddel bedek. Die bande moet gereeld nagegaan word om seker te maak dat dit ordentlik opgepomp is. Wanneer daar versuim word om na hierdie dinge om te sien, kan dit jou seermaak in planttyd in die land.
  • Balkhoogte: Dit is uiters belangrik om seker te maak dat die planter se balkhoogte ooreenstem met die paralleleenheid op die ry-eenheid se skakels, sodat die skakels op dieselfde hoogte as die balk is. Jy wil nie hê die ry-eenheid moet hang aan die balk, of dalk te hoog probeer opdruk nie. Dit kan skade veroorsaak aan die eenheid en ander toerusting op die planter.
  • Maak die planter gelyk: Dit is belangrik om seker te maak dat jou planter gelyk loop, en dat jou sleepstang nie laer hang as die res van die planter nie. Dit kan veroorsaak dat die ryskoonmakers in die grond in dolwe en die toetrapstelsel agterop nie met genoeg druk die voor toetrap nie.
  • Evalueer jou afdrukstelsel: Wanneer jy te veel druk op jou afdrukstelsel plaas (downforce), kan dit veroorsaak dat die buitewalle van jou plantvoor kompakteer. Dit maak die toetrapstelsel se taak om doeltreffend te werk baie moeilik. Dit kan ook veroorsaak dat jy te diep in die grond in werk met jou saad en onnodige slytasie op jou plantereenhede veroorsaak. Wanneer daar te min druk toegedien word, is die kans weer goed dat jy grondkontak gaan verloor, en dus te vlak plant. Dit raak ook jou opbrengs.
  • Monitering: Plantpopulasie, enkelpitplasing, spasiëring, ‘n ritverslag, die afdruktoestel se werking, grondvog en grondtemperatuur moet alles vanuit die kajuit gemoniteer kan word terwyl jy plant. Die 20/20-skerm van Precision Planting maak dit vir jou moontlik om al hierdie dinge dop te hou en te verstaan sodat jy die regte keuse kan maak vir die volgende hektaar.

Moenie dat jou planter jou terughou nie, en nog belangriker, moenie dat onsekerheid oor komponente en verstellings aan jou planter jou terughou nie. Ons by Ripper Tillage is hier om die pad saam jou te stap.

Planterversieningsgids

Volg die skakel op die QR-kode om toegang te kry tot die Planterversieningsgids

 

Gradeer jou planter op

Jy hoef nie noodwendig jou planter te vervang nie. Kyk hierna vir  opgradering:

  • vSet: ‘n Kleiner en ligter saadmeter met meer akkurate uitmeetvermoë en makliker om te onderhou.
  • vDrive: Elektriese motor wat die meganiese aandrywing vervang, minder slytasie veroorsaak en individueel beheer kan word.
  • Deltaforce: Die toerusting gee beter beheer aan die operateur om te verseker dat die ry-eenhede konstant 100% grondkontak behou en sorg vir ʼn gladder rit wat dus ook opbrengs verbeter en elke ry-eenheid individueel kan beheer.
  • Reveal-ryskoonmakers: Hierdie vrybewegende eenheid word aan die planterbalk gemonteer en loop los van die ry-eenheid op sy eie drukwiel om te verseker dat stoppels ordentlik uit die pad gevee word, sodat die saad skoon op die saadbed kan val en nie hoef te sukkel met onnodige vogvreters nie.

Vloeibare- en korrelkunsmistoerusting:

Martin Till-kunsmiskouters:

Martin Till-kunsmiskouters bied ‘n verskeidenheid opsies vir kunsmistoevoeging tot jou grond. Daar is ‘n enkel-, sowel as ’n dubbelkombinasie kunsmistoediener wat voor aan die ry-eenheid gemonteer word en saamwerk met ‘n vrybewegende ry-skoonmaker vooraan die kunsmiskouter. Dit kan aan een kant of weerskante van die saad kunsmis toedien ongeveer twee duim (5 cm) van die saad af. Hierdie is ‘n briljante kombinasie om by jou planter te voeg vir vloeibare kunsmis, omdat dit ook dien as ‘n ryskoonmaker.

EM Flowsense:

Hierdie tegnologie laat jou toe om die toedieningskoers van die kunsmistoediening akkuraat en in elke ry afsonderlik te bepaal, op jou planter sowel as die “Side Dress Bar” om jou bewus te maak van variasie wat plaasvind en om jou vertroue te gee in jou toedieningskoers.

V-Apply HD:

Hierdie tegnologie laat jou toe om die regte hoeveelheid vloeibare kunsmis by elke plant te plaas. Dit verseker dat jou plant nie hongersnood in die gesig staar nie en jy nie onnodige geld hoef te spandeer op kunsmis wat oormatig toegedien word nie.

Clarity:

Standaard blokkasiestelsels vertel of ‘n produk vloei, maar dit is waar dit eindig. CLARITY bied hoëdefinisiesigbaarheid in lugsaaiers, saaikasplanters, droëkunsmistoedieners en strookbewerkingstawe in werklike tyd. Die Clarity-stelsel vertoon en karteer vloeiveranderlikheid en produkblokkasiemaatstawwe, ry-vir-ry, op die 20|20-monitor in die kajuit.

Agxcel Schaffert Pop-up:

Hierdie stelsel loop op sy eie. Die bewerking en toediening van hierdie produk kan deur die operateur verstel word vanuit die kajuit, vanaf die stelsel se eie toedieningsbeheer. Dit word geaktiveer deur ‘n drukskakelaar wat deur die parallelskakeleenhede op die planter geaktiveer word, wat dan veroorsaak dat die stelsel aan- en afskakel soos benodig om te verseker dat daar nie onnodige toediening plaasvind nie.

Keeton Firmers:

‘n Saadvastrapper is ‘n komponent wat, soos voorheen genoem in die planterversieningsgids, gebruik word om die saad in die saadbed vas te druk, en te verseker dat die lugborrels uitgedruk word. Saadvastrappers word ook gebruik saam met die Agxcel Schaffert-stelsel om akkurate toediening te verseker.

Deltaforce

EM Flowsense

Keeton Low Stick Firmer

Agxcel Schaffert Pop-up-stelsel

vApply HD

vDrive-motor

vSet-meter

Besoek gerus Ripper Tillage se webtuiste www.rippertillage.co.za. Kontak ook gerus vir Werner Lubbe by 062-240-9938 of Christine Bouwerby 082-773-9297.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0