Categories: NewsPublished On: 27th May 2011

Riglyne-oor-kalwers-gevra

By 2 min read
410 words

Die suiwelbedryf is by ‘n vergadering van die Lewendehawe-welsynskoördineringskomitee gevra om riglyne vir die vervoer en verkoop van kalwers by vendusies op te stel. Die Melkprodusente-organisasie sê in sy jongste nuusbrief dat dr Nico Schutte die MPO by die vergadering verteenwoordig het. Een van die sake onder bespreking was die behoefte aan riglyne om die omstandighede waaronder kalwers jonger as drie weke sonder hul ma’s by afslaers se vendusiekrale te koop aangebied mag word, aan te dui. Dr Nico Schutte vra dat enige konstruktiewe voorstelle aangaande riglyne vir hierdie praktyk en die vervoer van kalwers aan hom deurgegee word om die MPO met die samestelling van hierdie riglyne, wat as standaard deur dierewelsynsorganisasies gebruik sal word, te help. Skakel dr Schutte by 012-843-5600 of 082-807-1539 of stuur ‘n e-pos aan nico.schutte@mpo.co.za.

Die MPO sê ook in sy nuusbrief dat die 2011/2012 melkproduksieseisoen dalk later mag loop as die vorige een. Melkproduksie gedurende die eerste vier maande van 2011 was effens laer as  Januarie tot April 2010. Swaar reën en baie nat toestande in die somerreënvalstreek het ‘n negatiewe invloed op melkproduksie gehad. Produsente in meeste areas berig dat produksie laer is. Varsmelkverwerkers sukkel tans om genoeg melk te verkry om aan verbruikers te voorsien. Volgens die MPO-ekonoom, dr Koos Coetzee, mag die huidige afswaai langer as normaal voortduur, en mag vraag en aanbod dalk eers in die laat lente uitbalanseer.

Rekord betalings vir Nieu-Seelandse boere

Onder tussen het Fonterra ‘n vooruitskatting van ‘n rekord melkbetaling aan Nieu-Seelandse melkprodusente bekend gemaak. Die vooruitgeskatte Fonterra produsenteprys beloop NZ$7,50 per kilogram melk vastestowwe vir die 2010/2011 suiwelseisoen wat volgende week ten einde loop. Die vooruitgeskatte verdeelbare wins is met 10 sent per aandeel verhoog na tussen 50 en 60 sent. Melkprodusente wie se melkvoorraad ten volle ondersteun is deur aandele sal NZ$7,75 tot 7,80 per kilogram melk vastestowwe verdien nadat Fonterra se gedeelte van die verdeelbare wins afgetrek is. Fonterra het ook ‘n vooruitskatting van die produsenteprys vir die 2011/2012 suiweljaar van NZ$6,75 per kilogram melk vastestowwe bekend gemaak.

Nuwe bestuurder by Agri Connect

Mev Erika Alberts is as die nuwe besturende direkteur van Agri Connect, uitgewer van, onder andere, The Dairy Mail, aangestel. Mev Alberts het meer as twintig jaar se ondervinding in die bemarking-, kommunikasie- en media-sektore. Sy sal na verwagting ‘n sleutelrol in die totstandkoming en ontwikkeling van die elektroniese media-afdeling van Agri Connect speel.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0