Categories: NewsPublished On: 11th May 2011

Regering skep onsekerheid oor grond

By 2 min read

Teenstrydige berigte oor die uitbreiding van die grondeiseproses het boere opnuut in onsekerheid gedompel. Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mnr Gugile Nkwinti, het glo op ‘n werksessie oor grondrestitusie in Johannesburg gesê hy gaan by die kabinet aanbeveel dat die proses heropen word. Dit is deur die minister se woordvoerder, mnr Mtobeli Mxotwa, bevestig.  Vanuit kabinetskringe is egter ontken dat die proses heropen gaan word.

Volgens die voorstel op die werksessie moet die afsnydatum van 1913 – die jaar waarin die Wet op Naturellegrond gepromulgeer is – teruggeskuif word en moet mense toegelaat word om nuwe eise in te dien. Die afsnydatum vir grondeise was 31 Desember 1889.

Daar is nou glo mense wat beweer dat die drie jaar wat hulle tyd gehad het om eise in te stel, nie lank genoeg was nie en dat baie nie daarvan geweet het nie.

Mnr Henk van der Graaf, assistant-hoofbestuurder: Kommunikasie van TLU SA sê as mense ten spyte van die regering se bemarkingsveldtog nie bewus was van die proses nie, moes hulle in ‘n koma gewees het en hy twyfel of mense wat in ‘n koma is kan boer.

Hy sê met enige ander prosesse van die regering soos nuwe bestuurslisensies en wapenlisensies kan Jan Publiek geen verskoning aanvoer soos onkundigheid nie. TLU SA vermoed dat die proses nie aan die ideologiese eise van die ANC/SAKP voldoen het nie en dat daar te min geldige eise ingestel was. Nou moet die proses kunsmatig aan die gang gehou word.

Van die byna 80 000 eise is 74 000 afgehandel, maar volgens die minister is daar net tussen 4 en 5 persent grond oorgedra na swart gemeenskappe. Die regering se aangekondigde plan is dat 30% van landbougrond in swart besit moet wees.

TLU SA eis dat die regering nou die langverwagte grondoudit voltooi, want volgens inligting wat in 2001 al vrygestel is, was net 44% van die grond in Suid-Afrika toe nog in wit besit.  

Dr Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, het in sy reaksie gesê hy is besonder verbaas oor die verwikkelinge want die landbou-organisasie is nooit na die werksessie genooi nie.

Hy sê: “Dit is die goedkoopste verkiesingsfoefie met die duurste gevolge. Mense hardloop reeds weg van landbou af en dít (die voorstel) gaan net bydra tot die onstabiliteit in die bedryf.”

Dr De Jager het gesê die minister se planne is vir hom vreemd, veral aangesien die regering sedert 2005 by minstens vyf geleenthede gesê het daar is geen planne om die proses te heropen nie.

Dr Ruth Hall, senior navorser in grondregte en landelike hervorming aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het ook haar verbasing uitgespreek, want die parlement het in 2007 openbare verhore oor presies dié kwessie gehou en besluit dit is nie wys om die proses te heropen nie.




0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0