Categories: NewsPublished On: 1st July 2010

Quon-UD-350-KT:-Nissan-Diesel-se-nuwe-bulperd-vragmotor

By 3 min read

’n Indrukwekkende kombinasie van onstuitbare krag, maklike gebruik, veiligheid en ekonomiese brandstofverbruik– dit is Nissan Diesel se ekstraswaar Quon UD 350 KT-voorhaker.

Met die Quon-reeks, waarvan hierdie die jongste aankondiging is, het Nissan Diesel sy posisie as een van Suid-Afrika se heel voorste vragmotorvervaardigers verstewig, sê Johan Richards van Nissan Diesel Suid-Afrika.

Die reeks bied die beste ontwerpvernuf en vooruitgang in die ekstraswaar-vragmotorbedryf en dit is perfek geskik vir Suid-Afrika se eiesoortige uitdagings.

Die Quon UD 350 KT spog met 257 kW krag teen 1 800 opm en ’n indrukwekkende 1 470 Nm wringkrag teen 1 100 opm. Dit is 20% meer krag en 23% meer wringkrag as sy voorganger, die UD 290 KT.

Die nuwe, verbeterde GE13 TA-enjin se skitterende prestasie is te danke aan ultrahoëdruk-inspuiters en verbeterde ontbranding, wat vir die eienaar meer krag, maar ook ’n veel suiniger brandstofverbruik, beteken. Daartoe, en tot die vermindering van uitlaatgasbesoedeling, dra die herontwerpte turbo-aanjaer by.

Al hierdie krag word maklik, gladweg en met die minste moeite vir die bestuurder, deur ’n verbeterde Escot II 7-spoed-outomatiese ratkas gelei.

Brandstofekonomie en doeltreffende kragbenutting word verder verbeter deur die nuwe lugdinamiese ontwerp wat windweerstand verminder.

Veiligheid is vir Nissan Diesel van die uiterste belang, soos die jongste en mees gevorderde veiligheidstandaarde wat hulle vragmotors kenmerk, getuig.

Die UD 350 KT het ’n sterker, duursamer kajuitstruktuur, sterker vloer- en stamperraamwerke, ’n skokabsorberende stuurkolom en stuurwiel, misligte, hooflighoogteverstelling, groter syvensters vir ’n beter uitsig en sluitweerremme.

Al hierdie maatreëls sou nie veel gehelp het as die vragmotor die bestuurder so uitgeput het dat hy konsentrasie verloor nie. Daarom is die Quon UD 350 KT se luggeveerde kajuit so gerieflik as wat kan kom met nuwe monterings wat rol, spring, skokke, vibrasies en ’n geskud grootliks verminder.

Die bestuurder se sitplek is herontwerp en meer verstelbaar vir groter gerief en lekker sit, waartoe armleunings bydra. Die instrumentpaneel is om die bestuurder gerangskik om sake vir hom so moeiteloos en maklik as moontlik te maak. Alles is onder die oog en byderhand.

Die passasiers se sitplekke is ook geriefliker en daar is geen agtervenster in die kajuit nie, wat die slaapkajuit meer privaat en veiliger maak.

Die kajuit is ook ruimer as die vorige modelle s’n.

Verdere welkome kenmerke van die Quon UD 350 KT is die verbeterde harnas en bedradingbeskerming, ’n sluitbare brandstoftenkprop wat verseker dat duur diesel nie gesteel word nie, ’n beter lugreëlingstelsel, sentrale sluitstelsel en ’n herontwerpte, luggeveerde kajuit.

Enigeen sal graag so ’n gawe vragmotor wil bestuur en die ontwerpers het selfs daaraan gedink om toegang tot die kajuit vir die bestuurder makliker ter maak. Die onderste van die drie toegangtrappies is nou aan die onderstel gemonteer en trapliggies sorg dat jy nie dalk in die donker mistrap nie.

Al hierdie kenmerke werk saam om sake vir die personeel geriefliker te maak sodat hulle minder moeg word en meer produktief kan werk.

Vir die eienaar probeer Nissan Diesel om die bedryfskoste van hulle vragmotors so laag as moontlik te hou en terselfdertyd ’n lang, vrugbare vragmotorlewe te verseker. Onderhoudskoste is uiters mededingend en Nissan Diesel se Quon UD 350 KT hoef in geen opsig vir enige ander ekstraswaar vragmotor terug te staan nie.

Praat vandag nog met jou Nissan Diesel-handelaar of besoek www.nissandiesel. co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0