Categories: NewsPublished On: 14th February 2011

Puk spog met sy spesiale waterlelie

By 1 min read
Die Victoria-waterlelie (Victoria cruziana) wat in tropiese Suid-Amerika in die natuur voorkom is tans op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se Botaniese tuin te sien.
 
Volgens Martin Smit, kurator van dié Botaniese tuin, moet die plant elke jaar opnuut van saad gegroei word. Die saad is so groot soos ‘n ertjie en die volwasse plant se blare kan heelwat groter as ‘n meter in deursnee wees, en dit binne een seisoen sê Maartin. 
 
Alhoewel die plant alreeds groot is, veral in vergelyking met gewone waterlelies, behoort hulle lelie nog heelwat groter te word gedurende die laat somer. Kundiges by die Botaniese tuin verwag dat die plant ook binnekort sal blom en hoop om die blomme dan te bestuif. Sade sal geoes word en deur die winter bewaar word vir die volgende groeiseisoen. 
 
“Hopelik kan die besonderse plante ook in die toekoms in meer tuine in Suid-Afrika ten toon gestel word en so help om mense se belangstelling in die plantwêreld te prikkel” sê Maartin.
 
Die plant wat tans te sien is, is afkomstig van Victoria-sade wat van die Universiteit van Helsinki bekom is. Die Victoria-plante is reeds sedert die vroeë 1800’s deel van dié universiteit se versameling. 
 
Die Puk Botaniese tuin het aanvanklik saam met die Manie van der Schijff Botaniese tuin van die Universiteit van Pretoria sade ontvang en ontkiem. Ongelukkig is die eerste plant by die tuin in Potchefstroom deur visse in die tropiese dam opgevreet. 
 
Die Universiteit van Pretoria het hulle saailing in Oktober verlede jaar aan die NWU-Puk Botaniese tuin geskenk.
 
Die NWU-Puk botaniese tuin is oop vir die publiek van Maandae tot Vrydae en die Victoria-waterlelie kan op spesiale versoek besigtig word.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0