ProAgri SA 291

Proagri_291_May_2024 -Voorblad foto
Hoop … ‘n klein woordjie met baie betekenis
Die winter sluip al hoe nader. Boere is volstoom besig om te stroop of met die voorbereidings vir die nuwe seisoen, wat beteken dat ons natuurlik ՚n heerlike klompie stories het om te dek! Ons het die afgelope paar maande verskeie boere regoor die land besoek, van die mooie Sandveld en Swartland, Vrystaat tot die Bosveld.
Ons het ook ons buurlande platgereis en deur dit alles het die besef weer in my hart opgeflikker: Boere bly hoop. Hoop vir ‘n nuwe seisoen. Hoop vir beter oeste volgende jaar. Hoop vir die nuwe geslag. Ek sien hoe boere op hulle telefone na die weervoorspelling kyk om te sien wat die weer gaan doen en wat die markte gedoen het.
Ek hoor hoe boere die volgende geslag leer hoe om die land te bewaar en te versorg, want dit is die enigste grond wat ons ooit sal kry. Ek hoor hoe boere sag vra: “Waarom doen ons dit?” Maar dan sien ek die tevrede lag op hulle gesigte wanneer ‘n gesonde kalf die grond tref. Ek hoor die boere se frustrasie as trekkers breek en masjiene ophou werk. Om ‘n boer te wees verg baie en vereis dat jy op jou tone moet bly terwyl jy verseker dat diere gevoer word, sade uitloop en hulpbronne nie minder word nie. Maar as die boere steeds bly hoop, het die res van die land ook hoop.
In hierdie uitgawe het ons ‘n reeks begeesterende artikels oor die nuutste landbou-ontwikkelinge en -tegnologieë wat van belang is vir Suid-Afrikaanse boere; van die uitdagings tot die triomfe – ons dek dit alles.
Ons waardeer al ons lesers se lojaliteit en ondersteuning en ons streef daarna om u te voorsien van toepaslike en insiggewende inhoud wat sal help om julle boerderye lekkerder en lonender te maak. Aan elkeen van ons boere wens ons dat die uitdagings wat julle in die gesig staar beter uitkomste sal hê as wat julle voorgestel het.
Lekker lees aan ons nuutste uitgawe van ProAgri en alle voorspoed vir die komende seisoen! Ons sien julle een van die dae by NAMPO.
ProAgri-groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za