ProAgri SA 285
Groen en goud – kleure van hoop
Soos wat die einde van die jaar al hoe nader kruip besef jy dat die afgelope jaar ‘n tyd van uitdagings en geleenthede vir ons en veral vir die landboubedryf was. Dit is met groot dankbaarheid dat ons nog ‘n uitgawe van ProAgri met julle kan deel. Dit was ‘n opwindende maand
van besoeke, boeredae, veilings en rugby, waar die Springbokke, die manne in die groen en goud die Wêreldbeker huis toe gebring het!
Dit val my by hoe ons as Suid-Afrikaners uitbundig van vreugde kan rondspring en saamstaan vir ‘n Wêreldbekerrugbyeindstryd, en waar ek nadink, kan ons nie maar met alles wat ons in die land aanpak so saamstaan nie? Wat is daar nog op die horison vir ons waaroor ons kan uitsien – ‘n einde aan beurtkrag? Laer brandstofpryse? ‘n Einde aan veediefstal, ander misdaad en moord op boere?
Hoe lyk die vooruitsigte vir die landboubedryf?
Een ding is seker: die landboubedryf bly ‘n dinamiese sektor wat voortdurend aan beweging en verandering onderwerp is en tyd en tegnologie staan nie stil nie! Ons sien al hoe meer hoe boere nuwe tegnologie in hulle boerderye suksesvol aanwend. Ons het ‘n paar heerlike stories wat vir jou wag in hierdie nuwe, propvol uitgawe! In ons voorbladstorie plaas ons kollig op Valtrac se voortreflike Bogballe-kunsmisstrooier. Valtrac versprei die strooiers in Suid-Afrika en baie boere pluk al die vrugte van die akkurate presisietoediening van bemestingstowwe deur Bogballe se uitstekende reeks masjiene.
Ons vertel jou meer oor John Deere se plantertegnologie en kyk ook na ‘n interessante artikel van Pioneer waar drie jaar se data saamgevat is om te bepaal of jy mielies moet oorplant of nie.
Ons het gaan aanklop by ‘n boer van Kriel waar hy sy storie deel oor plaasdiefstal en hoe hy baat vind by Agrico se slim spilpuntvernuwings. Ons het ook buite Hartswater by Pieter Burger Boerdery gaan kuier, waar hy ‘n klinkende sukses van pekanneutboerdery maak en die vrugte pluk van sy selfaangedrewe presisie-spuite. Lees meer op bladsy 11.
Vandeesmaand plaas ons ook spesiale fokus op ons jongboere, wat ons vlagdraers vir landbou is. Dit is lekker om te hoor dat die jonger geslag wil terugkeer plaas toe en dat boerwees in die landbou vir hulle ‘n aantreklike beroep is om te volg. Dit is lekker om die jongboere se verhale te hoor, stories van toewyding aan die erfenis van die land en ‘n geloof in die potensiaal wat dit inhou. Lees meer vanaf bladsy 25.
My daaglikse ervarings op die plase en tussen die boere en mense voed my positiewe uitkyk vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou. Elke dag is ‘n geleentheid om by te dra tot die sukses van die bedryf wat my hart aan die brand hou. En soos ons die laaste stukkie van die jaar aandurf, sien ons daarna uit om julle op hoogte te hou van die jongste nuus en neigings in die landboubedryf.
Dankie dat julle deel is van hierdie opwindende reis.
Aan ons boere, sterkte met die opkomende plantseisoen. Mag die groen en goud aan julle kant ook wees!
ProAgri-groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za