ProAgri SA 283

proagri_283_september_2023-Internal Link
September is ’n bitter besige en belangrike maand op die graankalender. Ons kon nie eers behoorlik “dit is heerlike lente” sing nie, toe klop die somer reeds aan ons deur.
Wat landbouproduksie betref, is daar ook ’n klomp vrae wat aan die huidige klimaatsomstandighede gekoppel is. Wat is die werklike omstandighede in die VSA, hoe gaan die verwagte El Niño plaaslike oeste beïnvloed of gaan dit enigsins ’n impak hê?
‘n Hoogtepunt op my jaarkalender tot dusver was ons onlangse besoek aan Duitsland saam met die Jupidex-groep aan Kverneland se Internasionale Presisielandboukongres. Dit is vir my ’n voorreg om dit kortliks hier te deel.
Presisieboerdery word al hoe meer deur boere wêreldwyd toegepas. Na ons besoek kon ek tot die gevolgtrek¬king kom dat meganisasie ‘n belangriker rol in boerdery moet speel indien ons boere saam met die res van die wêreld mededingend wil bly. Diver¬sifikasie en waardetoevoeging is die finansiële wenresep vir meeste van die plase en gebiede wat ons besoek het.
Daarmee saam besef ek ook dat die wêreldbevolking na verwagting teen 2050 tot nege biljoen sal styg. Om te voldoen aan die vraag wat met hierdie aantal mense verband hou, sal voedselproduksie met 70% moet styg. Gegewe die talle uitdagings wat die landbousektor in die gesig staar, soos klimaatsverandering en stygende produksiekoste, word dit egter vir boere moeilik om jaar na jaar hulle produksie te handhaaf of op te stoot. Wêreldwyd draai nywerhede na geïntegreerde digitale toerusting wat verhoogde produktiwiteit beloof.
Lees meer oor ons besoek en oor Kverneland se nuwe slim, presisietegnologie.
John Deere Financial is toegewyd aan boere en wil boere help en ondersteun om hulle sake te sien slaag. Lees meer op bladsy 3 oor John Deere Financial se splinternuwe blik op finansiering.
Vir die van julle wat binnekort julle somergroentetuine begin plant, is daar ons reeks oor groentetuine vir beginners met al die nodige wenke, moets en moenies!
Baie sterkte vir die wintergraan¬boere wat nou met die oesseisoen wat naderom die vrug gaan pluk van hulle harde werk en beplanning. Wat die somergraanboere betref, sterkte met julle beplanning in die aanloop tot ’n nuwe seisoen.
Lekker lees aan ons nuwe uitgawe van ProAgri terwyl jy die reuk van beskuit in die oond en die gekwetter van wilde voëls wat ons vroegoggend begroet geniet. Ons hoor graag van jou. Droom saam vooruit en help so jou eie toekoms bou en verseker – ons onderneem om jou te hoor!
ProAgri-groete!
Bianca Henning
bianca@proagri.co.za
Om Uitgawe 283 van ProAgri af te laai, kry dit hier.