Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 6th June 2023

ProAgri SA 280

By 2 min read

proagri_280_june_2023_voorblad

Grond en water is meer werd as goud

Landbou is een van die oudste beroepe ter wêreld en vandag is landbou die belangrikste beroep ter wêreld. Daar is tans ongeveer 570-miljoen plase wêreldwyd waarvan meer as 80% familieplase is.

In Suid-Afrika is daar ongeveer 32 000 boerderyeenhede, dus produseer ՚n halwe persent van ons bevolking kos vir 60-miljoen mense. Nie netmaak ons ՚n bestaan nie, maar volgens 2019 se statistiek skep ons ook werk vir 3-miljoen mense op plase. Dus maak hierdie 32 000 boerderyeenhede ՚n reuse bydrae in ons land.

As ons die storie so paar honderd jaar terug vat na die Groot Trek, waaroor ek ՚n boek op sy eie kan skryf, besef mens weer opnuut grond is nie net iets wat jy erf nie. Hierdie grond is deur bloed en sweet gekoop en betaal. Die bal is in ons hande – of ons dit oppas sodat ons en ons nageslagte nog daarop kan boer.

Meer as ooit dink ek boere besef ook dat ons almal aanpassings moet maak en ons boerderypraktyke verander om steeds wins te maak. Hierdie neiging was ook duidelik sigbaar by NAMPO vanjaar. Met die tema vernuwende landbou, was die fokus dat daar aanpassings gemaak moet word in die bestuurstyl van verskeie boerderybedrywighede. Jy moet presies weet wat jy insit en wat jy uitkry. Ons kan nie meer dieselfde grondbewerkingstegnieke gebruik wat ons oupas gebruik het nie en ons kan nie meer bekostig om onnodig lammers te verloor nie.

Ons kan natuurlik nie altyd alles reg doen nie; almal maak foute. Jy koop dalk ՚n verkeerde bul of ram wat iets negatief in jou kudde teel, en dit vat jare om ՚n fout reg te teel.

՚n Boer gooi nie so maklik tou op nie. Hulle sal altyd ՚n uitweg vind want ՚n boer maak altyd ՚n plan. Al benadeel beurtkrag boere erg, sal hulle ՚n plan maak om steeds ՚n sukses te behaal ten spyte van al die uitdagings. As jy iets doen, doen jou bes om dit reg te doen. Maak seker jou stand is reg as jy plant. Maak seker jou koeie se kondisie is reg as jy die bulle injaag. Jy het nie baie kanse om dit reg te doen nie. Besef elke seisoen hierdie is een seisoen minder om die beste van jou boerdery te maak!

Geniet hierdie propvol uitgawe van ProAgri en indien jy ՚n paar hoogtepunte by NAMPO vanjaar gemis het – moenie bekommerd wees nie; ons span het dit vasgevang en deel dit graag met ons lesers.
Voorspoed vir die winterseisoen en lekker boer!

ProAgri-groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0