ProAgri 235

proagri_235_septembers_2019.indd
’n Hartroerende brief oor die uitmergelende droogte geskryf deur ’n boervrou van Boesmanland het in die sosiale media verskyn. Ek haal ’n paar sinne uit haar brief aan: “Vandag waai die wind weer in die Boesmanland. Nie ’n vars bries nie, maar ’n warm, stowwerige wind. En ek is moeg. Moeg vir die stof en droogte. Moeg vir lammers sonder ma’s. Moeg vir honger skaap en voergee. Moeg vir nie oplossings vind nie. Moeg vir altyd positief wees…”
In hierdie uitgawe skryf ons oor die droogte, ook hoe dit ons buurland, Namibië raak, want dit is die werklikheid waarmee ons moet saamleef. Een boer, een streek, een land se nood raak op die ou end ons almal in Afrika.
Dit help nie om vir ’n boer wat met sy laaste geld lusern koop in die hoop dat die reën gaan kom en die woestyn omtower in ’n voerparadys te vertel dis alles die skuld van “global warming” nie. Op sy erfgrond moet hy doen wat hy kan om te oorleef.
Hy en sy gesin is, soos sy ouers voor hom en hulle ouers, uit die grond, van die grond van hierdie land. Hulle is nie die vreemdelinge wat die haatopswepende Ace Magashule van die ANC hulle uitmaak om te wees nie. Ons stryd om te oorleef en groei as boere in die land met sy beperkte hulpbronne is reeds swaar genoeg, ons het nie nodig om in ons eie land in die politiesgedrewe aangeblaasde vreemdelingehaatveldtog ingetrek te word nie.
Dit is net nog ’n veldtog wat gedryf word om die aandag af te trek van die regering se klaaglike onvermoë en onwilligheid om die land behoorlik te bestuur.
Ek sien uit na die dag wat ons ’n span van ons megaboere kan instuur om die land se bestuur reg te ruk. Sommer gou-gou sal dinge klopdisselboom loop en sal daar ook genoeg reserwes wees om diegene wat deur natuurlike terugslae soos droogte getref word, by te staan.
Tot dan kan ons nie anders as om moed te hou, mekaar in gebed te dra en te ondersteun sover ons kan nie. En natuurlik om so slim as moontlik te boer!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za