in ,

ProAgri 231

This post is also available in: English

՚n Student wat navorsing doen oor die rol van hommeltuie in presisieboerdery wou ՚n rukkie gelede by my weet wat beskou ek as presisietegnologie; moet dit byvoorbeeld satellietbeelde insluit en grondprofiele van elke vierkante meter?   

Ek sien presisietegnologie, of eintlik enige tegnologie, as ՚n proses eerder as ՚n definieerbare tiekboksie. Anders gestel, dit hang af wie jy vra. ՚n Opkomende boer wat ՚n handkunsmisstrooier stoot wat ՚n eweredige strook kunsmis in die plantry plaas ongeag die spoed waarteen hy loop, het ՚n groot sprong na presisieboerdery gemaak vanwaar hy was.    

As hy nou nog sy saad ewe ver van mekaar en ewe diep geplaas kan kry, het hy die toppunt van sy vlak van presisietegnologie bereik. Ek verwag dat die topmaatskappye vanjaar by NAMPO gaan voortbou op hulle aanbiedings rondom inligtingstegnologie met nog beter sagteware, rekenaarprogramme en integreerbare oplossings om jou plaas van ՚n raakskerm af te bestuur, van die voorraadbeheer van jou filters op die werkswinkelrak tot die voggehalte en suikervlak van elke lemoen aan elke boom.   

Landboutegnologie is ՚n wonder wêreld van vooruitgang en buitelandse maatskappye se verteenwoordigers staan telkens verstom oor die gretigheid waarmee ons boere die tegnologie aangryp en hulle eie maak. Almal het nie die vermoë om die nuutste tegnologie en wydste meganisasie-oplossings aan te koop nie, maar ek vertrou dat elke boer vanjaar by NAMPO iets gaan vind om sy proses van ontwikkeling aan te help.    

Verlede maand het ons berig oor die geskiedenis van John Deere in SuidAfrika. Dit was vir my verstommend om agter te kom hoe kort die ontwikkelingsproses inderwaarheid was en hoeveel ontwikkelings in die duur van ՚n mens se leeftyd plaasgevind het. In hierdie uitgawe skryf ons oor Valtratrekkers wat in 2003 aangekoop is en vandag nog fluks werk. Die trekkers was 16 jaar gelede op die voorpunt van tegnologie, en hoewel hulle nou vir ons “outyds” mag lyk, doen hulle steeds dieselfde waardevolle werk.    

So, neem jou tyd, kyk mooi wat het jy regtig nodig om teen jou eie, volhoubare ontwikkelingspoed vorentoe te beweeg. Onthou ook dat nie een slim rekenaar die boer se voetspoor in sy lande en tussen sy diere kan vervang nie.  Kom kuier gerus by ons in die Hinterlandsaal en neem deel aan die wedstryde. Daar is ՚n paar goeie pryse in die spel. Jy kan ook daar heeltemal gratis ՚n regte, “outydse” foto van jouself en jou gesin of vrinne kom laat neem. Jy kan die foto huis toe vat en teen die yskas vasplak!

Boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bokhaarmark is stabiel

wol

Wolmark styg