Prins-Charles-is-gek-oor-wol-en-self-‘n-wolboer
Prins Charles, die Prins van Wallis, het verlede week met leiers uit die Suid-Afrikaanse wolbedryf kennis gemaak op ’n funksie wat deur Cape Wools, die Wol-tekstielraad en die Veldtog vir Wol gereël is.
Die funksie in Kaapstad is deur wolhandelaars, wolkwekers en plaaslike mode-ontwerpers bygewoon en het ten doel gehad om die internasionale “Veldtog vir Wol”, te vier.
Dié veldtog beywer hom om wol as as die voorste natuurlike en volhoubare vesel in die wêreld van kleedstowwe te hervestig.
Prins Charles, wat as beskermheer van die veldtog optree, is’n groot kampvegter vir omgewingsbewaring. Hy glo dat die natuurlike eienskappe en duursaamheid van wol groot voordele vir die modebedryf en vir binnenshuise tekstielstowwe inhou.
Hy produseer self organiese wol op sy plaas, Duchy Home Farm. Sy Cotswold-skape se wol word gebruik vir ’n klerereeks wat die bekende Britse kleinhandelaar, John Lewis, onlangs in sy winkels bekend gestel het.
Die Veldtog vir Wol is in Oktober 2010 in Londen van stapel gestuur tydens ‘n “wolweek” toe Londen se beroemde Savile Row – die straat waar van die wêreld se bekendste modewinkels geleë is – met gras bedek is sodat skape daar kon wei.
Die veldtog is vanjaar na ander stede in die noordelike halfrond soos Tokio, Madrid, Berlyn, Amsterdam en Oslo uitgebrei. Die Noorweegse hoofstad het die geskiedenis van wol met ’n skaapskeerdemonstrasie langs die parlementsgebou gevier.
Organisasies wat ten nouste by die Veldtog vir Wol betrokke is, is die Internasionale Woltekstielorganisasie, die Britse Wolbemarkingsraad, Australian Wool Innovation, sowel as verteenwoordigers uit die Suid-Afrikaanse, Australiese en Nieu-Seelandse wolbedrywe en ander wolproduserende lande.
Die wolbedryf is een van die oudste landboubedrywe in Suid-Afrika en die land is ook een van die groot woluitvoerlande en die naasgrootste verskaffer van Merinowol aan die wêreld se tekstielmarkte. Suid-Afrikaanse wol, het deur die jare bekendheid verwerf vir gehalte, en sy sagte aanvoeling.
Suid-Afrika voer onder andere wol na China, Italië, Duitsland, Frankryk en Indië uit. Wol ter waarde van R1,7 miljard is in die 2010/’11-seisoen uitgevoer.