Categories: NewsPublished On: 11th April 2011

Praat saam oor steenkoolmyn op Steenbokpan

By 1 min read
Boere en ander belanghebbendes is uitgenooi om kommentaar te lewer op die voorgestelde ontginning van steenkool naby Steenbokpan in die Ellisras-omgewing. ‘n Maatskappy wat aangestel is om die openbare deelname-proses te bestuur, Digby Wells, het ‘n voorlopige oorsigverslag beskikbaar gestel vir die voorgestelde Temo Steenkoolmyn.  
 
Kommentaar kan nog tot 14 Mei 2011 gelewer word. Digby Wells sê in ‘n verklaring dat kommentaar verwelkom sal word omdat dit ‘n belangrike bydrae kan lewer tot die omgewingstudies wat nog uitgevoer moet word. 
 
Die plase wat geraak gaan word, was voorheen deel van Kleinberg 252 LQ. Die projekarea is ongeveer 45 km noord-wes van Ellisras en 18 km vanaf Stockpoort op die D175 distrikspad wat Steenbokpan en Stockpoort met mekaar verbind. 
 
Volgens die verslag gaan die voorgestelde operasie ‘n oopgroefmyn wees wat ‘n area van ongeveer  3 200 hektaar gaan beslaan. Die totale steenkoolreserwe is ongeveer 1,5 miljard ton. As gevolg van die vlak voorkoms van die steenkool-neerslae sal gebruik gemaak word van ‘n konvensionele oopgroef-metode met die hulp van swaarvoertuie en laaigrawe. Die bogrond wat verwyder word sal apart gestoor word vir gebruik tydens toekomstige rehabilitasie.
 
Die steenkool gaan verkoop word aan Eskom en op die uitvoermark. Die onverwerkte steenkool gaan vervoer word deur steenkoolvoertuie op ‘n private grondpad na ‘n verwerkingsaanleg  op die plaas Duikerpan 249 LQ. Die verwerkte steenkool sal dan verder per trein vervoer word. Die myn sal ‘n geskatte 549 mense aanstel wat kan toeneem tot ongeveer 713 werknemers tydens optimale produksie.
 
Die volledige verslag is op die Digby Wells-webwerf ( www.digbywells.com) beskibaar onder die opskrif:  Resources: Public Documents. Dit kan ook by die munispale kantoor en plaaslike biblioteek op Ellisras besigtig word of by Steenbokpan Wholesalers.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment