Categories: NewsPublished On: 8th July 2011

Polisie-geloof-vir-flink-optrede

By 1 min read
Die polisie het lof van Agri SA gekry vir die arrestasie van vermeende plaasaanvallers en die voorkoming van ‘n plaasaanval in Kwazulu-Natal.
 
Die organisasie het in ‘n verklaring gesê hulle wil die polisie gelukwens met verskeie suksesvolle optredes die afgelope week. Dit bewys dat vinnige en professionele optrede goeie resultate kan oplewer, lui die verklaring.
 
Die voorsitter van die organisasie se komitee bemoei met landelike veiligheid, mnr André Botha, het gesê dat die boerderygemeenskap niks anders as professionele diens van die polisie verwag nie.
 
Hy het gesê dat ferm optrede deur die polisie die sterk boodskap aan misdadigers moet oordra dat misdaad in landelike gebiede nie geduld sal word nie.
 
Hy het bygevoeg dat voorkomende optrede deur die polisie swaar steun op tydige inligting en dat misdade suksesvol opgelos kan word as die gemeenskap en die polisie saamwerk. 
 
Vinnige optrede deur die polisie het daartoe gelei dat verskeie voornemende plaasaanvallers doodgeskiet is in ‘n mislukte rooftog op die Lyttle Harmony Farm in die Richmond-omgewing. 
 
Soortgelyke flinke optrede het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes vir die moord op die Le Roux-egpaar van Heidelberg en drie verdagtes vir die moord op mnr Koos Grobler van die plaas Henley by Letsitele. Die verdagtes het ook reeds in die hof verskyn en die verhore duur voort.
 
“‘n Beroep word op verhoorbeamptes in die onderskeie sake gedoen om by skuldigbevinding van die verdagtes geen genade te toon by strafoplegging nie, omdat die moordenaars ook geen genade vir hulle slagoffers getoon het nie,” het mnr Botha gesê.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0