Plant met plesier: Equalizer verlaag insetkoste en verhoog opbrengs
’n Reusagtige dieselbesparing en ’n aansienlike opbrengsverbetering – dis wat Hannes Haasbroek van Bothaville se nuwe mielieproduksiestelsel vir hom beteken. En in dié lonende stelsel speel die Equalizer-wyeraamplanter wat deur Theebo Tech vervaardig en deur Vitamech bemark word, ’n sleutelrol.
Bothaville se wêreld is sandwêreld en daarom nie geskik vir geenbewerking nie. Die grond verdig baie maklik. Daarom maak Hannes sy lande 800 mm diep los met ’n skeurploeg en plaas terselfdertyd kunsmis wisselend volgens grondmonsters wat op verskillende dieptes geneem is.
Vir hierdie taak gebruik hy natuurlik ’n Challenger MT 855 rusperbandtrekker van 342 kW. Dié bul het oorgenoeg krag om agt rye wyd los te maak, sy rusperbande trap nie, soos wiele, die sand so vinnig vas as wat die skeurploeg losmaak nie en jy bespaar al die diesel wat ’n wieltrekker vir nuttelose wielglip vermors.
Met GPS-tegnologie skakel Hannes ook oorvleueling en oorslaan uit en met sy Equalizer-planter dien hy kunsmis presies volgens behoefte toe.
Voorheen het Hannes sy mielierye een meter uitmekaar geplant, maar die trekker se wiele het te naby aan die rye geloop en die grond daar vasgetrap. Hierdie vastrap het hom ’n opbrengsverlies van tot 400 kg per hektaar in die rye langs die trekkerspore gekos.
Daarom het hy sy rye na 1,5 meter verbreed, met die rye onder die trekker 0,8 meter uitmekaar.
Hy het besef dat hy sy groot trekker beter kan benut en sy lande nog minder sal vastrap as hy ’n sestienryplanter in plaas van ’n agtry soos voorheen gebruik. Dit is hier waar Equalizer se mense met die perfekte antwoord na vore getree het.
Hannes vertel hy het van Equaliser se wyeraamplanters gehoor en afgesit Kaap toe om met die mense te gaan praat. Hulle het onmiddellik presies verstaan wat hy wil hê en hoekom.
Die uiteindelike resultaat is ’n planter wat ontwerp is volgens die skeurploeg se wydte en wat 16 rye kan plant met ’n balk wat 19,5 meter wyd is as hy oopgevou is. Hy het tenks vir vloeibare kunsmis en John Deere MaxEmerge-plantereenhede wat Hannes reeds gehad het en waarmee hy doodtevrede is.
’n Mens kan enige soort plantereenheid gebruik en die Massey Ferguson 555-eenheid is ook baie gewild by boere met Equalizer-planters.
Met hierdie planter plant Hannes so 35 hektaar voordat hy die saad, gif en kunsmis moet aanvul. Van so sewe-uur die môre tot so 6-uur die aand plant hy 180 hektaar met net een bykomende werker wat die trekker met die kunsmistenk bestuur en hom help om die saad en gif aan te vul.
Van die eerste dag af het hy baie goeie, verstandige diens van Equalizer se mense ontvang en die klein probleempies wat opgeduik het, het hulle dadelik opgelos. Die feit dat hulle ook bereid is om na wenke wat boere gee te luister en dit in ontwerpe in te sluit, gee ’n mens vertroue dat Equalizer altyd presies op die boer se behoeftes afgestem sal wees.
Die trekkers wat eers vir plant gebruik is ry nou kunsmis en water vir die gifspuit aan.
Die enigste bewerkings wat Hannes doen is skeurploeg, spuit en plant. Voorheen het hy vandat die stroper op die land klaar is totdat die stroper weer op die land kom 70 liter diesel per hektaar gebruik, maar met sy nuwe metode is dit nou ’n skamele 18 liter per hektaar.
Boonop skarnier die balk sodat die planter strykdeur kunsmis en saad presies op die regte diepte plaas, wat ’n aansienlike opbrengsverbetering tot gevolg het. Daartoe dra die feit by dat vastrap nou so min is – net twee spore vir sestien rye.
En staantyd? Nee wat, sê Hannes, ’n wyeraam Equaliser veroorsaak geen staantyd en sukkel nie.
As jy ook vir laer koste en hoër opbrengs wil plant, praat met Marius Tolmay van Vitamech by 083-581-5709 of Gideon Schreuder van Theebo Tech by 021-981-2161 of e-pos gideon@equalizer.co.za of besoek
www.equalizer.co.za.