Plant en eet jou eie kruie
![]() |
‘n Nuwe boek oor kruie het pas die lig gesien. Kruie van tuin tot tafel leer ‘n mens hoe om jou eie kruie te kweek en op ’n gereelde grondslag kruie tot jou beskikking te hê.
Die boek is deur Marie Greyvenstein van Alexandria geskryf. Sy het ‘n besondere belangstelling in kruie ontwikkel nadat sy self heelwat daarmee geëksperimenteer het.
Die boek maak dit maklik om jou eie heilsame kruie te kweek: Jy kies bloot die kruie wat jy wil plant uit die kruiekatalogus en volg die riglyne. Die boek bespreek ook die oes en stoor van kruie, wenke oor hoe om kruie te pluk, af te stroop, te kap, te rol en op te sny.
Daar is ook meer oor die verskillende gebruike vir kruie vir onder meer skoonheids-, aromatiese en kombuisgebruik, asook potpourri-mengsels.
Dit is Marie Greyvenstein se tweede boek. Haar eerste boek Kook met kruie en speserye het in 1999 verskyn.
Kruie van tuin tot tafel is ‘n sagtebandboek van 248 bladye en word deur LAPA uitgegee.