Categories: NewsPublished On: 30th November 2011

Plaasmoorde-wek-internasionale-aandag

By 1 min read

‘n Mosie teen plaasmoorde in Suid-Afrika is net-net in die Nederlandse Tweede Kamer (Parlement) verwerp. Die land se Minister van Buitelandse Sake was onder andere baie positief oor die mosie. 

Die mosie het veral klem geplaas op die plaasmoorde in Suid-Afrika en diskriminasie wat teen die boere van die land plaasvind. Verskeie partye, waaronder die SGP, PVV en Groenlinks het onder andere gepleit dat internasionaal kennis geneem moet word van die plaasmoorde in Suid-Afrika en dat die Nederlandse regering selfs kundigheid moet aanbied om die probleem te help oplos. 

Die Sosialiste en Arbeidersparty het die mosie in ‘n stemming laat sneuwel, maar die Minister van Buitelandse Sake, Rosenthal, het verklaar dat hy die mosie “omhels”. 

“Al is die mosie afgestem en gaan daar geen hulp aangebied word nie, beteken dit tog dat daar toenemend kennis geneem word van die haglike omstandighede waaronder ons boere moet probeer voedselsekerheid handhaaf,” sê TLU SA se president, mnr Louis Meintjes in reaksie op die gebeure.  

“TLU SA is verheug daaroor dat daar deurbrake kom in sy aksies om die wêreld se oë op die vergrype teen Suid-Afrikaanse boere te vestig. Ons wil nie graag ons vuil wasgoed voor die oë van die internasionale gemeenskap was nie, maar as die Suid-Afrikaanse regering nie self iets aan die saak wil doen nie, het ons geen ander keuse as om die wêreld in te lig en daardeur druk van buite af uit te oefen nie,” sê mnr Meintjes.  TLU SA sal hierdie aksie van hom voortsit, want die voortdurende moord op die boere kan nie langer stilweg aanvaar word nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0