Categories: NewsPublished On: 13th February 2012

Plaasmoorde moet ook prioriteitsmisdade wees

By 2 min read

TLU SA dring daarop aan dat plaasmoorde as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Die organisasie se president, mnr Louis Meintjes, sê in ‘n mediavrystelling dat hy bly is om te verneem dat veediefstal in die Vrystaat nou as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar is. “Netso is TLU SA verheug om te verneem van al die maatreëls wat ingestel word om renosters teen stropers te beskerm.” 

Daar was egter weer ’n plaasmoord en in hierdie geval is die 71-jarige mev Ingrid Niebuhr in haar huis in die Wakkerstroom-omgewing vermoor. 

“So bly as wat ons is dat sekere misdade, wat met boerdery verband hou, prioriteitsmisdade verklaar word, so bekommerd is ons dat die regering en polisie nie die aandag aan plaasmoorde gee wat dit verdien nie. Mev Niebuhr is no 1 555 op TLU SA se databasis van mense wat op plase vermoor is, en ons vermoed dat hierdie getal selfs hoër kan wees,” sê mnr Meintjes. 

“Die regering is ons ’n paar reguit antwoorde verskuldig.  Ons wil eerstens weet of plaasmoorde en plaasaanvalle nog wel as prioriteitsmisdade beskou word.  Ons is ook geregtig om te weet watter maatreëls ingestel word om boere te beskerm, en om moordenaars aan te keer en te vervolg. 

“Ons kan al die gesteelde vee terugvind en ons kan alle renosters beskerm, maar as die boere wat met hulle werk vermoor word, is daardie aksies absoluut futiel.  Die regering moet sy prioriteite vir ’n slag reg kry, want ons kan nie voortgaan om boere teen hierdie tempo te verloor nie.  Sover ons weet is sewe landbouers sedert die begin van die jaar vermoor. Dinge kan nie so aangaan nie,” sê mnr. Meintjes. 

Gedurende Januarie het TLU SA gevra vir ’n dringende gesprek hieroor met die Kommissaris van Polisie.  “Sedertdien is nog niks van hulle verneem nie. Ons gaan die saak nou opvolg met die polisie, want ons kan die saak beslis nie net daar laat nie,” sê mnr Meintjes.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment