Plaasmoorde-herdenk-by-Witkruismonument
Plaasmoorde: |
Die jaarlikse restourasie en eerbetoon by die Witkruismonument wat plaasmoorde herdenk, het die afgelope naweek plaasgevind. Die monument is aan die voet van die Ysterberg net buite Pietersburg opgerig. Die sowat 2 000 wit staalkruise, wat in die vorm van ’n reuse-kruis geplant is, is duidelik te sien van die N1.
Vyftien nuwe kruise is deur naasbestaandes geplant, en ander kruise is herstel en geverf. Vrydagaand het mense van die Tabita-organisasie wat slagoffers van plaasaanvalle bystaan, op die berg oornag en meer as ‘n duisend kerse laat brand, wat die groot kruisformasie indrukwekkend verlig het. Talle voertuie het dan ook op die deurpad gestop om die skouspel gade te slaan.
‘n Kultuurleier, mnr Johan Willemse sê as gevolg van ‘n skenking deur Plascon van 36×5 liter wit verf, kon hulle groot dele van die monument herverf en sal hulle dit volgende jaar voortsit. Hy sê: “Die geheelbeeld is nou weer soveel beter vanaf die N1.”
Die besoekerstal het met so 40% gegroei van verlede jaar af. Hy sê: “Ons vertrou dat daar op Saterdag 2 Junie 2012 dubbeld soveel mense hierdie geleentheid sal bywoon.”
Daar is onder meer drie kruise vir die vermoorde Potgieter-gesin van Lindley geplant. Die twee-jarige Willemien is saam met haar pa, Attie (40) en haar ma, Wilna (36) in Desember op hul plaas vermoor.
Mev Lita Fourie, stigter van die Tabita-hulporganisasie vir die slagoffers van plaasmoorde, het gesê die Potgieter-familie het haar gevra om die drie kruise te plant. Die familie kon nie self daar wees nie. Die gesin se ses vermeende moordenaars se verhoor gaan vandag voort in Bloemfontein.
Joshua Serfontein van Tzaneen het op sy agtste verjaarsdag ’n kruis geplant ter ere van sy oupa, mnr Daan Landsberg (53), wat in 2003 op sy plaas naby Zeerust, in Noordwes, doodgeskiet is.
’n Kruis is ook geplant vir mnr Frik Hermann (71), ’n oom van dr Dirk Hermann van Solidariteit, wat in Februarie op ’n plaas in die Vaalwaterdistrik vermoor is.
Mnr Willemse het gesê hulle wil ook ’n saal bou waar foto’s van plaasmoorde uitgestal sal word, sodat buitelandse toeriste kan sien hoe erg dit is.