Categories: NewsPublished On: 3rd November 2011

Plaasbestuurder-doodgeskiet-in-die-Vrystaat

By 1 min read
Plaasaanvallers wat vermoedelik vee wou steel het ’n plaasbestuurder doodgeskiet en sy broer ernstig gewond.
 
Mnr  Sean Schutte en sy broer, Louis, het Woensdag twee verdagte mans met hulle vierwielmotorfiets tot by die Caledonrivier agternagesit waarna die verdagtes, waarskynlik van Lesotho, Sean doodgeskiet en sy broer drie keer in die bolyf geskiet het. Mnr Louis Schutte is per lugambulans na ‘n privaat-hospitaal in Bloemfontein gevlieg.
 
Die Schutte-broers, plaasbestuurders op die plaas Alpha, van mnr Bernard Amm, is klaarblyklik op kort afstand met ‘n semi-outomatiese wapen geskiet.
 
Leë beloftes?
 
Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Tina Joemat-Petterson het verlede jaar aan die media by die Parlement gesê dat plase se veiligheid ‘n kritieke en dringende prioriteit vir haar department is en dat hulle onder die leiding van die Minister van Polisie soldate ontplooi het om die grense te patrolleer met die doel om veediefstalaktiwiteite te voorkom.
 
Die Volksblad-koerant het in Julie berig dat Bheki Cele, nasionale polisiehoof, aan boere gesê het dat die polisie alles moontlik gaan doen om oorgrensmisdaad en veediefstal uit Lesotho te bekamp.
 
“Ons nuwe strategie maak groot erns met veediefstal. Dit is ’n voorkeurmisdaad en ons gaan baie hulpbronne gebruik om dit te voorkom. Ons veediefstaleenhede sal beter opleiding ontvang en ook beter toerusting en voertuie kry. Ons gaan selfs helikopters inspan vir vinniger reaksie.” het Bheki Cele gesê.
 
Mnr Cele is intussen geskors, hangende ‘n ondersoek na die wanaanwending van polisie-geld.
 
Bron: www.volksblad.com

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment