Plaasaanvalle:-Boek-moet-keer-dat-mense-net-statistiek-word
“Ek is van die plaas af met net my halfverbrande nagklere aan my lyf, nadat ek die kas waarin hulle my toegesluit het, se deur moes afskop. Ons kon darem my man se liggaam uit die brandende huis trek.” Madeleine van den Berg is een van die slagoffers van ‘n plaasaanval in die Cullinan-omgewing wat haar storie by die bekendstelling van die boek, Treurgrond, vertel het.
Treurgrond is ‘n register van plaasaanvalle wat oor die afgelope 20 jaar plaasgevind het. Dit is saamgestel deur generaal-majoor Chris van Zyl van TLU SA en dr Dirk Hermann van Solidariteit. Die idee om so ‘n boek uit te gee het ontstaan toe die twee organisasies saamgewerk het om die ANC-jeugleier, Julius Malema, hof toe te vat oor sy haatspraak-liedjie, Skiet-die-boere.
In daardie tyd is dr Hermann se oom, Frik Hermann op sy plaas doodgeskop en geslaan. “My oom was nommer 1 647 op TLU SA se lys van boere wat vermoor is en ek het net besluit hy kan nie ‘n statistiek bly nie. Die slagoffers van plaasaanvalle is mense en hulle stories moet gehoor word,” het dr Hermann by die bekendstelling aan die media gesê.
Generaal Chris van Zyl sê die syfers wat TLU SA het, is eintlik ‘n konserwatiewe beraming, aangesien hulle maar net rekord kan hou van die voorvalle wat by hulle aangemeld word of in die media gerapporteer word. Elkeen van die 2 617 voorvalle wat in die boek opgeteken is en kortliks beskryf word, is geverifieer.
Dr Hermann skryf in sy voorwoord dat daar oral in Suid-Afrika treurgrond is. “Families wat treur, gemeenskappe wat treur, plaaswerkers wat treur, grond wat treur.”
Hy sê tog word daar nie genoeg getreur nie, want daar is talle wat koud staan. Die boek is ‘n spieëlbeeld wat die regering, die media, die gemeenskap en die internasionale gemeenskap aankla omdat die moorde net aanhou en aanhou.
“Waarom is plaasmoorde nie ‘n nasionale prioriteit nie? Ons vertrou dat hierdie boek plaasmoorde hoër op die nasionale agenda sal plaas.”
Treurgrond kos R150 en kan bestel word deur die woord “treur” na die nommer 34388 te stuur. Die boek sal ook by TLU SA se kantoor beskikbaar wees.
Dr Dirk Hermann van Solidariteit en genl Chris van Zyl van TLU SA het die boek Treurgrond, saamgestel.
Deon Schoeman het by die bekendstelling van die boek vertel hoe sy vrou voor hulle twee klein kindertjies doodgeskiet is.