Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 26th September 2022

Pesplante: Alles is blou (dissels)

By 4 min read
740 words

argemone-mexicana-gd6fc6439e_1920

Die eiervormige saadpeul is stelkelrig, net soos die res van die bloudissel. (Bron: Pixabay)

՚n Gesig wat enige boer deeglik moerig stem, is bloudissels se kenmerkende stekelrige groen tot blougroen blare wat soos vlaggies tussen jong gesaaides uitsteek.

Bloudissels kom oorspronklik van Sentraal-Amerika, Meksiko en Texas. Dit is aanvanklik as ՚n sierplant na Suid-Afrika gebring, maar het later hier vervuil geraak. Deesdae is dit ingevolge die omgewingswet geklassifiseer as ՚n kategorie 1 onkruid .

Nie net is die plante giftig nie, maar die skerp blare steek in mense wat deur die landery loop se enkels en vee se pote. Die gif, sanguinarine, word in die hele plant aangetref en veroorsaak ernstige simptome in sowel mens as dier. In sommige gevalle veroorsaak dit selfs dood.

Bloudissel is ՚n eenjarige plant wat gewoonlik vroeg in die herfs ontkiem en teen die lente blom. Dit versprei hoofsaaklik deur die saad wat aan vee, werktuie, motors, wol, water, hooi, kaf n graan vasklou. Saad kan jare lank dormant bly. Dit is juis waarom die pesplant so moelik is om te beheer.

Wanneer paaie nuut geskraap word of landerye bewerk word in voorbereiding van die nuwe seisoen, diep dit die dormante saad op wat wag totdat die gewas geplant, bemes en besproei word. Meestal groei die onkruid tussen mielies en sonneblom, maar ook sojabone.

Nie net steel die onkruid voedingstowwe van die gewasse waarmee dit meeding nie, maar hou ook moontlike gevaar van vergiftiging in wanneer dit tussen voedsel geoes word.

Identifikasie

Daar is twee soorte bloudissel, naamlik die geel bloudissel (argemone mexicana), en die wit bloudissel (argemone ochroleuca). Die name verwys na die kleur van die blom. Die blommetjie self herinner ՚n mens aan ՚n papawer se bloeiwyse.

Die wit bloudissel se blare is blougroen en het ligte are wat dit nog meer blou laat vertoon. Die geel bloudissel, daarenteen, is grys-groen, ook met ligte aartjies. Die bokant van die blare is glad en die onderkant is harig. Saadpeule is eiervormig en stekelrig.

Die onkruid kan tot een meter hoog groei. Wanneer die stingel geknak word, word ՚n geel, melkerige sap uitgeskei.

Die blomme het vier liggeel of roomkleurige blare wat ‘n donkerrooi, drie-of seslob-stigma omring.

Gevare van bloudissels

Alhoewel vee nie noodwendig die plante uitsoek om te vreet nie, kan enige deel van die plant wat in per ongeluk ingeneem word dodelike nagevolge hê. Dit gebeur ook makliker as wat ՚n mens dink: tydens die oes proses beland stukkies blare en plantdeeltjies in die veld tussen mieliereste wat vir vee gevoer word, of plante word saam met kuilvoer gesny en gebaal. Pluimvee wat per ongeluk ՚n saadjie oppik, sterf binne dae.

Beheer van bloudissels

Bloudissels het diep wortels wat die proses om dit uit te roei bemoeilik. Dit, gekombineer met saad wat lank dormant bly en maklik deur voorwerpe en diere versprei word, maak dat baie aandag aan die uitroei van die onkruid bestee word. Maar dit kan gedoen word!

Eerste op die lys is van beheermetodes is chemiese beheer. Waar bloudissels intensief in spesifieke kolle groei, kan gifstowwe goeie resultate toon. Spuit verkieslik die onkruid voordat die plante blom en saad vorm, anders sal die saad wat reeds gevorm is terug in die grond beland. Raadpleeg jou betroubare verskaffer van onkruiddoder om te hoor watter gifstof die bloudissels sal uitroei sonder om jou gewasse te benadeel. Neem ook in ag dat plante wat vrek dan plantmateriaal agterlaat.

Daar is egter ՚n ander, meer arbeidintensiewe metode, en dit is om die plantjies vroeg in die seisoen te identifiseer en uit te trek.

Gereelde en eenvormige beheer lewer die beste resultate.

Skep ook ՚n gebied om werktuie skoon te maak om verdere besmetting tussen landerye of dele van die plaas te verhoed.

Bronne

Crocodile River Reserve. 2019. Mexican Poppy (Argemone Ochroleuca). Beskikbaar by: http://crocodileriverreserve.co.za/2020/01/08/mexican-poppy/.

Department of Primary Industries and Regional Development of Western Australia. 2018. Mexican poppy control | Agriculture and Food. Beskikbaar by: https://www.agric.wa.gov.au/herbicides/mexican-poppy-control.

Department of Primary Industries and Regional Development of Western Australia. 2022. Mexican poppy: what you should know | Agriculture and Food. Beskikbaar by: https://www.agric.wa.gov.au/declared-plants/mexican-poppywhat-you-should-know.

College of Agriculture and Life Science. 2022. Plants Poisonous to Livestock. Beskikbaar by: https://poisonousplants.ansci.cornell.edu/php/plants.php?action=indiv&byname=common&keynum=15.

SANBI. 2020. Threatened Species Programme | SANBI Red List of South African Plants. Beskikbaar by: http://redlist.sanbi.org/species.php?species=3642-4.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0