Peritum Agri en AgBiz Grain vat hande om nuwe kursus uit te rol
Agbiz Grain en die Peritum Agri Institute span kragte saam om die versnelde ontwikkeling van graansilobestuurders in Suid-Afrika moontlik te maak. Agbiz Grain is die organisasie wat die gemeenskaplike belange van kommersiële graanhanteerders en opbergers, die Agbiz Grain-lede, bevorder deur bystand en beïnvloeding van die graanbedryf.
Suid-Afrika produseer gemiddeld 13,5 miljoen ton mielies en nog 1,9 miljoen ton koring jaarliks. Addisoneel hiertoe word ander grane soos gars en sorghum asook oliesade soos sonneblom, canola en sojabone ook op skaal verbou. Ongeveer 70% van hierdie graan en oliesade wat geproduseer word in Suid-Afrika, word deur die twaalf lede van Agbiz Grain opgeberg. Gesamentlik het hierdie maatskappye 334 silokomplekse wat betonsilos, silosakke en bunkers insluit.
Die inname en opberging van grane en oliesade is in die hande van ‘n graandepotbestuurder wat toesien dat die produk volgens die Wet op Landbouprodukstandaarde (WET No. 119 VAN 1990) geklas en gegradeer word voor dit mag verhandel. Opbergers droog, deurlug en berook ook die produk vir veilige opberging.
Om ’n graansilobestuurder deur blootstelling of werkservaring beroepsgereed te kry neem tussen agt en twaalf jaar en gevolglik is hierdie beroep deur AgriSeta as kritiese -en skaarsvaardigheid gelys. Agbiz Grain het die inisiatief geneem en ’n kwalifikasie ontwikkel vir die opleiding van graansilobestuurders. Die Beroepssertifikaat: Graandepotbestuurder is in 2023 deur die QCTO geakkrediteer.
Peritum Agri Institute was die eerste, en tans enigste, opleidingsmaatskappy wat akkreditasie verwerf het om hierdie kwalifikasie aan te bied. Peritum College, geleë in die Vrystaat, is tans die grootste privaat landboukollege in Suid-Afrika.
En hier is die goeie nuus!
Agbiz Grain lede in die graansilobedryf in Suid-Afrika bied nou in samewerking met Peritum College aan matrikulante en jongmense onder die ouderdom van 25 jaar die kans op ’n loopbaan in graanopberging!
Die Beroepssertifikaat: Graandepotbestuurder, is ‘n praktykgerigte studie wat oor ‘n twee jaar periode voltooi word en die student voorberei op ’n beroep in graanopbergingsbestuur. In 2025 word ’n gewaarborgde internskap aan 70 jong Suid-Afrikaners gebied wat vir hierdie studierigting inskryf by Peritum Agri Institute.
In 2025 sal ingeskrewe studente sewe akademiese studieweke aan die Peritum Kampus bywoon, gevolg deur aanlyn bestudering van die akademiese materiaal en TEAMS gebasseerde sessies saam met hul lektore. Tydens hierdie jaar handel studente die teoretiese inhoud van die kwalifikasie af. Hulle sal ook die geleentheid kry om die landboumaatskappy waar hulle geplaas sal word vir internskappe te besoek.
In jaar twee, 2026, word studente vir 10 maande by ’n graansilo geplaas vir werkplek gebasseerde leer. Hierdie plasing stel die studente in staat om die praktiese komponente van die kwalifikasie en die take wat daarmee gepaard gaan, te voltooi.
In 2027 verander die plasing na ‘n betaalde internskap by dieselfde landboubesigheid. Dit bied aan studente geleentheid om genoegsame werksondervinding op te doen alvorens hulle die finale eksamen in die kwalifikasie aflê aan die einde van 2028. Hierdie program versnel nie net die ontwikkelingsproses van graansilobestuurders nie, dit bied ook ’n bekostigbare geleentheid aan jong Suid-Afrikaners om beide ’n relevante kwalifikasie en werksplasing in die landbousektor te bekom. Internskapplasings is beskikbaar in Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en Wes-Kaap.
Navrae kan gerig word aan Odette Shepperson, Bemarkingsbestuurder aan die Peritum Agri Institute. Sy kan gekontak word by marketing@peritumagri.com of telefonies by 0861228467.
Oor Peritum Agri Institute
Peritum dien as ‘n toegangspunt tot omvattende oplossings vir die ontwikkeling van ‘n veerkragtige werksmag wat toegewy is aan die transformasie van die landbousektor vir ‘n volhoubare toekoms. Ons is ‘n vaardigheidsontwikkelingsinstituut wat daartoe verbind is om individue op te lei wat landbou in Suid-Afrika bevorder. Ons gemeenskap sluit jong boere in wat praktiese landboukwalifikasies nastreef, korporasies wat betrokke is by die landbousektor, gevestigde kommersiële boere en hul werknemers, opkomende boere, en alle deelnemers in verwante landboubedrywe.
Die PERITUM MANIER verteenwoordig ‘n lewenslange leer- en ontwikkelingsreis vir individue en hul organisasies. Dit bied ‘n duidelik gedefinieerde leerpad waar deelnemers voortdurend vaardighede verwerf, wat hulle in staat stel om oor tyd ‘n volhoubare loopbaan in landbou te verseker. Hierdie benadering ondersteun ook organisasies wat toegewyd is aan deurlopende verbetering, wat hulle in staat stel om te floreer en toekomstige uitdagings die hoof te bied.