Pekanneute:-Oestyd-op-Orania
Die pekanneutoes op Orania is in volle swang met ‘n verwagte opbrengs van 140 – 150 ton van die 160 hektaar boorde. Meganisasie maak dit moontlik dat die pekanneute geoes en verpak kan word deur sowat 20 werkers.
Die neute word met ‘n skudmasjien van die bome af geskud en land op ‘n net wat dan kant toe gerol word, sodat die neute in rye land voor dit met ‘n masjien opgesuig word. Die stof en blare word dan uitgeblaas.
Neute wat op die grond agterbly word bymekaar geblaas en dan gewoonlik met die hand opgetel.
Mnr John Strydom van die Orania Beweging sê baie van die aanplantings is nog jonk, maar oor ‘n paar jaar met goeie bestuur kan die oes tot 3 ton per hektaar beloop. Dit vergelyk goed met die gemiddelde landswye opbrengs van ongeveer 1,8 ton per hektaar.
Die eerste pekanneutbome is 16 jaar gelede op Orania geplant en sowat 60% van die bome is nou al in produksie. Die jongste boord is twee jaar gelede aangeplant.
Die grootste verwerker (en boer) is Johan Ferreira en hy koop neute in van ander boere ook om saam met sy oes na Sjina toe uit te voer. Die neute word in die dop uitgevoer en hy gaan na verwagting tussen 120 en 140 ton vanjaar uitvoer.
Op die dorp is daar nog ‘n verwerker, Annatjie Joubert wat die neute kraak, dop en verpak; en neutbotter en pekanstafies maak. Sy verwerk so tussen 3 en 5 ton per seisoen.