Paul Bester van die Pinzgauers is oorlede

paul bester pinzgauer
Paul Bester, groot beesboer, voorsitter van die Pinzgauer-telersgenootskap en kuddebestuurder van die ZZ2-stoetery by Mooketsi, is verlede week (18 Augustus) aan kanker oorlede.
Sy familie en mense in die beesbedryf is hartseer om afskeid te neem van ‘n man, pa, oupa, broer, vriend en leier.
Paul was sedert 2006 voorsitter van die Pinzgauer- en PinZ²yl-telersgenootskap en hy was by ZZ2 se stoetery verantwoordelik vir die teling van PinZ²yl-beeste met Nguni-koeie en Pinzgauer-bulle. Hy was ‘n bekende gesig by veeskoue met sy breërandhoed en stapkierie.
Sy seun, Igmar Bester, sê hy was ‘n rolmodel van ‘n pa en ‘n legende van ‘n boer. “Woorde kan nie beskryf hoe ons hom gaan mis nie. Ons berus daarby dat hy nou in die Hemelse Kudde boer, met sy hoed en sy kierie in sy hand,” sê hy.
‘n Gedenkdiens ter nagedagtenis van Paul Bester sal gehou word by ZZ2 Mooketsi, Grootboom-plaas op Vrydag, 25 Augustus om elfuur.