Categories: WielePublished On: 27th March 2018

PASSIE VIR PRESISIE: Honda Civic Type R

By 6 min read
HOnda

02_HondaCivicTypeR

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Passie is ‘n anderste ding. Dit is die vlam wat die vuur aan die brand hou en die menslike psige in staat stel om die menslik onmoontlike te vermag.  Om uit te hou, aan te hou in weerwil van onbeskryflike teëspoed of teenstand en dan te oorkom, te oorleef en selfs te triomfeer word meestal aan passie toegeskryf. Aan die verkeerde kant kan dit mense dryf tot die gruwelikste en mees bizarre misdade teen die mensdom. Presisie weer is ‘n ingesteldheid om die strewe na perfektheid dalk te kan volmaak. Die resultaat van foutlose eksakte noukeurigheid as daar so iets kan bestaan in die onvolmaaktheid van menswees.

Die nuwe Honda Civic Type R omvat vir my die filosofie van ‘n passie om presisie na te streef.

Die Type R is Honda se blitsbuks en het wȇreldwyd  ikoniese status bereik onder blitsbuksaanhangers  sedert die eerste model bekendgestel is. Die nuutste weergawe is die 6 de generasie en vervang die vorige model slegs ‘n skamele drie jaar na bekendstelling.

Die nuwe Type R tref visueel. Volgens Honda is daar baie ure in die windtonnel gespandeer om die nuwe model aerodinamies so doeltreffend as moontlik te maak. Die gevolg is Honda het mildelik gebruik gemaak van ‘n swetterjoel vinne, vlerke, lugkanale en koolstofveselpanele om lug so doeltreffend en glad moontlik om en oor die bakwerk te laat vloei met die minste weerstand. Die resultaat volgens Honda is laer sleur wat weer beter verrigting, brandstofverbruik en paddinamika tot gevolg het. Teen hoë snelhede forseer die afwaartse druk van die lugvloei die Type R vaster op die pad vir beter greep en hantering deur die draaie.

Die neus is ‘n studie van ‘n mengelmoes van hoeke, skerp lyne en groot luggate met die plat skrefies LED ligte wyd weerskante wat  aggressie skree. Honda se groot rooi “H” is middel in die swart sierrooster geplaas met ‘n klein “R” neffens links. Die koolstofvesel lugsnoer laag onder die voorste lugskort eindig weerskante in twee klein vlerkies wat die lug na buite deflekteer.  Rooi aksentstrepe op die voorste, agterste, kantskorte en rondom die sierwiele is tipies Type R insignia. Van die kant gesien, kontrasteer die groot rooi Brembo remknypers treffend teen die swart  20” Berlina sierwiele met 245/30/R20 rubber.

Agter oordonder die reuse drukvlerk, maar dis so tipies Type R dat dit perfek in die groter prentjie inpas van die beeld wat die nuwe Type R na buite wil uitbasuin. Ditto vir die diep agterste lugskort met die talle regop vinne waar drie fris uitlaatpype langs mekaar reg in die middel pryk! Hoekom juis so? Sommer net omdat dit inpas by die beeld van die Type R – soos ‘n groot blink neusring  by ‘n punkrocker met spikey hare – uiteraard om die Type R se ren-identiteit te beklemtoon.

Die doelgerigte kajuit is ewe-eens baie naby motorparadys vir ‘n petrolkop wat hou van spoed en sportiwiteit. Binne is oordadig getooi met swart en rooi en gepoleerde aluminum afwerking. Die fokus is rengerig en word beklemtoon met die diep voorste sportsitplekke waarop “Type R” insignia gestik is. Die rooi aansitterknop regs langs die stuurwiel, die treffende sportstuurwiel met rooi leer inlegsel, aluminium pedale, koolstofvesel afwerking en die dowwe aluminium ratknop dra swaar aan die tradisie van vorige Type R modelle. Die agterste sitplekke is beklee met sober swart materiaal.  Ten spyte van die sportiewe afwerking sit die sitplekke gemaklik en is daar steeds ‘n luukse gevoel binne die kajuit.

Die nuwe Type R is effe groter as sy voorganger en met die as-afstand wat met 10cm gerek is het die totale lengte ook met ongeveer 17cm vergroot wat weer ‘n groter en geriefliker binneruim tot gevolg het. Instrumentasie agter die stuur is digitaal met ‘n rooi skynsel en kan verstel word om rit- en ander inligting te vertoon. Die uitleg van die voorste paneel is modern en sportief en  is effe na die bestuurder gedraai. Middel bo die ratkierie is ‘n groot kleurraakskerm waar al die klank, kommunikasie, voertuig en ander nutsfunksies soos ondermeer lugversorging, gehuisves word. Die ritmodusknop is in die nuwe model agter die kort ratkierie geplaas.  Daar is ‘n keuse van drie ritmodusse met “Comfort” vir wanneer jy vir ma of ouma kerk toe neem. “Sport” is vir wanneer jy bietjie kole wil gooi en seker maak die Type R bly nie agter as die laaities uit die onderdorp met hulle opgesoepte VDUB’s en boksie Corallas (met ‘n garage-turbo nogal my bru!) jou wil dice nie.

Wil jy egter +R-Modus kies, gaan trek jy jou styfste denim aan , sit ‘n valhelm op en gaan soek ‘n renbaan, want die nuwe Type R is nie vir softies nie. Jy moet kan stokke vat en jy  moet ken van vreesloos en platvoet deur die draaie sool!

Die nuwe Type R se 2,0 liter viersilinder turbo-enjin lewer 228 kW se piek verrigting. Dit verseker dat die 0-100 kpu lopie in 5,8 sekondes afgeblits word.

Die 400 Nm maksimum wringkrag sorg dat as jy jou vloet geplant hou, die topspoed van 272 kpu vinniger kom as wat jy dink. Aandrywing is deur die voorwiele via seker die beste 6-gang handratkas op aarde. Die nuwe Type R hou juis die rekord as die vinnigste voorwielaangedrewe motor om die roemryke  Nürburgring in Duitsland met ‘n tyd van 7min, 43,8 sekondes. Dit is meer as 7sekondes vinniger as die vorige Type R se rekord.

Die nuwe model is gebou op ‘n ultra ligte, uiters sterk platform om so min as moontlik mee te gee wanneer daar deur uitdagende draaie gejaag word. Terwyl ‘n multi-koppeling vering agter sorg vir ‘n verfynde rit asook vir goeie stabiliteit teen hoë spoed, is dit die revolusionȇre voorste vering met ‘n dubbele “Axis”- ontwerp wat wringkragstuur neutraliseer en sorg vir uiters goeie indraaie en stuurgevoel.

Tydens die bekendstelling het ons die nuwe Type R rondom Dezzi Renbaan in KwaZulu-Natal gaan looi en my bewondering vir die motor se rengerigtheid het rondte na rondte gegroei. My beste pogings om die Type R te kry om greep en traksie deur die draaie te verloor, was onsuksesvol. Volspoed in die pylvak om rondte na rondte harder en later te rem met die neus wat perfek die apeks volg daar waar ek mik sonder dat die agterkant uitkom, het gesorg vir loutere renplesier.

Honda se witjasse in Japan het dit reggekry om die nuwe Type R in “Comfort”  verstelling soos ‘n normale gerieflike Honda sedan op die pad te laat voel, in so ‘n mate dat self ouma gemaklik sal wees.

Trek jy egter jou stywe broekie aan met valhelm op die kop en jy gaan soek die kronkels en die platvoetpylvakke van ‘n renbaan op, sal die Type R jou laat glo dat jy een van die Senna’s, die Schumacher’s en die Vettels van jou generasie is.

Dis ‘n passie vir presisie wat net die Type R kan gee!

Die 2018 Honda Type R verkoop vir R627 900.

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0