Categories: NewsPublished On: 26th October 2011

Pasop vir die lekker kêrels

By 5 min read
1083 words

Aan Jannie

 

Ek weet nie eintlik hoe om die saak aan te roer nie. Ons Steyns is maar hardekoppe, en menige ouer het al sy seun op die verkeerde pad gebring deur hom die regte op die verkeerde manier aan te wys.

 

Die lekker kêrels daar op die universiteit wat saans so in die kafee sit en koffie drink en slimpraatjies verkoop, die kêrels met die streepsokkies en die skilderbont dasse, met die snaakse hoedjies en die wye broekspype, daardie lekker kêrels van vandag, moet jy weet, is nie die groot manne van die toekoms nie.

 

Die groot manne van jou tyd, die wat vir land en volk iets sal beteken en miskien iets vir jou sal beteken, die manne op wie se vriendskap jy eendag trots sal wees en wat vir jou ‘n klip uit die pad sal kan rol, soek jy verniet onder die lekker kêrels. Hulle is onder dié te vinde wat woel en spook en werk, wat kennis en krag soek vir die lewenstaak wat hulle weet wat voorlê.

 

Lekker kêrels vertel van die berge wat hulle in die verlede versit het; van die grootse dinge wat hulle nog in die toekoms sal doen. Maar ‘n man sien hulle nooit iets doen wat die moeite werd is nie. As ‘n hen kekkel, het sy tog ‘n eier gelê.

 

Lekker kêrels vertel van die leraar wat hulle so op sy plek gesit het toe hy dit laas gewaag het om by hulle huisbesoek te kom doen; van al die professore wat hulle reghelp. Maar as die leraar aan die deur klop, sluip hulle by die kombuisdeur uit en as ‘n professor ‘n vraag stel en na hulle kant toe kyk, sit die windmakers met ‘n mond vol tande.

 

Daar is baie van hulle soort in die ou wêreld. Hulle blaf soos ‘n boerhond en steek stert tussen die bene soos ‘n brak.

 

Soort soek soort. Jy is wel Ryk Jan Steyn, Vleiplaas se erfgenaam, maar tog ‘n Steyn en ons Steyns is mense wat woel. Moet jou tog nie van daardie lekker kêrels met hulle slimpraatjies waarvan jou briewe aan jou moeder die laaste tyd so vol is, laat wysmaak dat julle voëls van een soort vere is of dat hulle van jou om jou eie ontwil hou nie. Jy sal nog ‘n paar slae moet verveer voordat jy met hulle op dieselfde tak kan slaap.

 

Jou ma sê dis verkeerd van my om my medemens so te verdink. Maar jou ma se vader het nie skielik arm geword nie. Nog minder het sy haar mense sien gebrek ly.

 

Toe my vader bankrot speel en sy vriende in sy nood leer ken, sou hy die klompie met wie die nadere kennismaking die moeite werd was, op die vingers van sy een hand kon getel het. As die heuning uit is en die bye begin steek, gee die mensdom mos pad.

 

Werk doen niemand kwaad nie; selfs nie stal-uitvee en varkhok-skoonmaak nie. Maar leeglê en lekkerleef is ‘n ander saak. Oorlede vader se agterosse, twee sulke swartes, was sommer baie goed. As die wa die dag vasval en Potberg en Bles vat, en weer ‘n slag vat, en die wa kom nie, dan waai die trens of breek die juk middeldeur.

 

Ek kan my oë vandag nog toemaak en die twee ou staatmakers die wolwa alleen sien versit, stadig die skeerhuis uit, die kraalhek deur en teen die steilte op, tot bo waar die volk op die gelykte stilhou en die trekgoed vir sestien osse reggooi.

 

Omdat Potberg en Bles al oukant toe was, het Vader hulle naderhand laat loop om vet te word. Soos die ongeluk dit wou hê, kom die twee ou staatmakers na byna ‘n jaar se rondlê en lekkervreet by ‘n velddam aangestap waar ek en Augus die middag besig was om modder uit te sleep. Die modder was dik en die ses ossies wat ons voor die blok gehad het, was maar klein.

 

“Kom ons span die ou’s in,” sê Augus.

 

“Dan sukkel ons nie so nie,” sê ek.

 

Maar glo my, toe ons Potberg en Bles in het, toe sukkel ons eers. En praat van blystaan, en skeie breek en trense afruk! Ons was naderhand maar verplig om die agterossies wat ons laat loop het, weer aan te keer.

 

Vleis en brood en koffie is gesond. Dis die lekkergoed van die lewe en die sterk drank wat ‘n man se tande hol maak en jou binnegoed stukkend vreet. Waar die pad is hard is en die wereld opdraand, loop ‘n man veilig. Dis in die sagte plekke waar jy vasval; op die afdraande waar jou voete onder jou uitgly.

 

Ek vrees dit kan jou nog eendag ‘n blok om die been wees dat jou ouers geld gehad het en dat ‘n ander die pad vir jou oopgekap het. As ‘n man die byl nie self hanteer nie, kry jou spiere maar min kans om te ontwikkel.

 

Dirk Biljon, die losskakel wat ons hier op die dorp gehad het, was so sterk soos ‘n bees. Hy kon hard hardloop. Daar was nie ‘n man in die Karoo wat hy nie op die voetbalveld kon voorgee nie. En praat van ‘n bal raakvat en ‘n ander se voete onder hom uitduik! Die mense het sommer ver gery om Dirk te sien speel.

 

Hy kon die beste losskakel in Suid-Afrika gewees het, sommer ‘n nommer-een Springbok, as hy hom maar daarop toegelê het. Maar die prikkel om alles wat hy het uit te haal, het ontbreek, met die gevolg dat hy toe in die Boland voor die keurkomitee speel en die bietjie meer waartoe hy wel in staat sou kon gewees het, graag sou wou uitgehaal het, toe hy daardie bietjie meer die nodigste kry, het hy dit nie.

 

Die groot manne van die wêreld, moet jy weet, dié wat op die bergtoppe van die beskawing staan, het nie op die vlaktes om die vuur sit en gesels nie. Hulle het baadjie uitgetrek en geklim.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0