Parmalat verleng winteraansporing
Die suiwelmaatskappy, Parlamat, het sy produsente in kennis gestel dat hy sy winteraansporingskema met drie maande gaan verleng tot September. Die maatskappy sê as gevolg van laer winterproduksie en sy eie groeivooruitsigte gaan hy bykomende melk benodig.
Die aansporing behels dat produsente wat in hierdie tydperk meer melk aan Parmalat verkoop as 80% van hulle verkope in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, 30 sent per liter meer sal ontvang. Mnr Berlo Coetsee, groepsbestuurder: Melkwinning sê in die lig van hoë produksiekoste, wil hulle dit volhoubaar maak vir boere om produksie te vermeerder.
‘n Melkboer van die Swartland, Thys Swart, het in reaksie op die aankondiging gesê dit is verblydend om te sien dat daar meer melk benodig word. Hy sê: “Wat egter kommerwekkend is, is die feit dat Parmalat nie regtig daarvoor wil betaal nie. Die prysstrukture word ingewikkeld uitgewerk en daar word net meer betaal indien produsente meer produseer.”
Hy sê verlede jaar is produsente weer gepenaliseer indien hulle meer geproduseer het. Dit is werklik soos ’n pendulum wat heen en weer swaai wat dit onmoontlik maak om vir die toekoms te beplan.
Hy sê ook produsente het heelwat minder koeie aangesien hulle moes uitslag om te kon oorleef: ”In my area alleen het verskeie produsente totale kuddes uitverkoop en ophou melk. Hierdie prysstruktuur en maatreëls gaan nie meer melk bewerkstellig nie.”
Hy sê melkkopers moet eerder die basisprys lig, dan sal die boere meer melk produseer.
Ondertussen het dit aan die lig gekom dat ‘n bekende melkboer wat ook al as suiwelikprodusent van die jaar aangewys is, sy melkery toegemaak het en net aangaan met die vleisgedeelte van sy boerdery.
Mnr David Crookes van Standerton het volgens landbou.com gesê: “Dit is bloot nie meer ekonomies vatbaar om te melk nie. Melkboere het geen bedingingsmag nie.”
Hy sê hy het teen die einde van verlede jaar so R2,56/liter gekry, terwyl dit hom omtrent R3/liter gekos het om te melk.