Categories: NewsPublished On: 27th September 2011

Pannar bepleit samesmelting met Pioneer

By 1 min read

Die Pannar Saadmaatskappy het aan die Mededingingstribunaal gesê dat hy ‘n uitgebreide ondersoek na ‘n geskikte vennoot gevoer het, voordat hy besluit het om ‘n ooreenkoms met die DuPont-filiaal, Pioneer Hi-Bred International, te sluit. Die samesmelting is deur die Mededingingskommissie gekeer en die saak is na die Tribunaal verwys.  

Pannar se besturende direkteur, mnr Deon van Rooyen, sê dat dit vir hom duidelik was dat die maatskappy besig is om markaandeel af te staan aan maatskappye soos Monsanto met sy moderne tegnologie. Om dit te bowe te kom, het Pannar al sowat tien jaar gelede begin soek na ‘n geskikte vennoot.

Hy sê ander maatskappye het Pannar genader, maar baie van hulle het nie die feit waardeer dat Pannar meer as 50 jaar se ervaring in die plaaslike mark het nie en hulle was nie bereid om te betaal vir daardie kundigheid nie.

Pannar is tans die grootste saadmaatskappy in Afrika, maar het ook suksesvolle operasies in die Noord- en Suid-Amerika, sowel as in Europa.

Die ooreenkoms tussen Pioneer en Pannar is oorspronklik in Desember verlede jaar bereik, maar die Mededingingskommissie het die samesmelting gestop want dit was bang dit sou die mededinging in die saadproduksiesektor verminder.

Die tribunaal-verhoor sal na verwagting drie weke duur. Ander partye wat vertoë gaan lewer is die omgewingsgroep, Biowatch Suid-Afrika en die Afrika-sentrum vir Biosekuriteit.

Biowatch sê indien die transaksie voortgaan, sal dit die meeste van Suid-Afrika se saadaanbod in die hande van Pioneer Hi-Bred en Monsanto laat en so ‘n stap sal volgens hulle ‘n bedreiging inhou vir Suid-Afrika se voedselsekuriteit en sy saadsoewereiniteit.

Bron: Bizcommunity Nuus

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment