Overberg-se-graan-lyk-belowend-na-mooi-reën
![]() |
Die Overberg-DLV berig dat die koue weer nog meer welkome reën na die Overberggebied gebring het en dat sy boere tans verligting na die langdurige droogte geniet.
Schalk Viljoen sê dat Riviersonderend sowat 20 mm gekry het en dat die graan goed lyk, alhoewel boere sukkel om in die lande te kom.
Pieter Beukes van die Caledon-gebied sê dat hy 18 mm reën gekry het en dat die graan in hulle omgewing ook mooi is.
Verder Noord het Thys Delport sowat 70 mm gehad. Thys gee toe dat hy nou wel verniet gespuit het maar, dat “die koue en nat nodig is want nou loop die damme weer vol.”
Johannes de Villiers van die Bredasdorp-omgewing het 20 tot 25 mm op sy plaas gemeet.
Francois Uys van dieselfde omgewing het onderskeidelik 45 mm en 78 mm op die plase Patryskraal en Mierkraal gehad. Volgens hom is die landerye tans te nat vir spuitwerk maar hy is ingenome met hoe die graan lyk.
Die Strandveld het ook goeie reën gehad.
Die Theewaterskloofdam se vlak van 51% in Mei tot 76% gestyg na goeie reën die afgelope maand in sy opvangsgebied geval het.
Danie van Zyl van die Hemel en Aarde Vallei het die afgelope naweek 27 mm gemeet. Dit is bo die70 mm wat hy vroeër gekry het. Hy sê dat skade ‘n moontlikheid word, sou daar nog reën val, maar dat veeboere baie bly oor die reën is. “Meer reën word steeds verwelkom aangesien die damme nog baie leeg is,” het hy gesê.