Opel raak “Grênd” met sy nuwe Grandland X

Opel-Grandland skuins agter aansig
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
Nadat Chevrolet laasjaar oor die horison uit Suid-Afrika gery het en die Chev/Opel/Isuzu alliansie verfomfaai het, was daar baie gissinge en spekulasie of Opel nie ook gaan handdoek ingooi nie.
Die Opel Astra was weliswaar die waardige wenner van 2017 se SA Gilde van Motorjoernaliste se gesaghebbende Motor van die Jaar kompetisie, maar het nie daarna te waffers verkoop nie. Met die skoknuus dat General Motors Opel vir ‘n appel en ‘n ei aan Peugeot verkoop het, is die spreekwoordelike kat behoorlik onder die skinderhoenders losgelaat.
Opel se Duitse base het egter einde laasjaar self kom vure doodslaan en die versekering gegee dat Opel sal voortgaan in SA onder ‘n nuwe maatskappy wat as OPEL SA sal funksioneer. Tydens die geleentheid, wat ons bygewoon het, is daar aangekondig dat die Unitrans groep die handelaarsnetwerk en verkope van Opel motors gaan behartig via hulle 35 vertoonlokale landswyd. Om te wys dat Opel SA ernstig is om voort te gaan in Suid-Afrika is ‘n nuwe model, die Crossland X terseldertyd bekendgestel wat naas die Opel Mokka X, die tweede “X”-model in die reeks was.
Minder as ses maande later, het Opel Suid-Afrika die derde “X”-model en die tweede binne 5 maande na “Opel-onafhanklikheid”, plaaslik bekend gestel. Terwyl die Crossland X ‘n kompakte 5 sitplek sportsnuts is wat met onder andere die Ford EcoSport en Mitsubishi ASX in die plaaslike mark meeding, is die nuweling genaamd Grandland X meer van ‘n mediumgroote vyfsitplek sportnuts met ‘n groot laairuim. Terloops die Grandland X, wat onder andere met VW se Tiguan en Hyundai se Tucson meeding, is ook groter as die Mokka X en is dus nou die grootste van die drie X- modelle in die Opel stal.
Die ontwerp is treffend en vertoon baie uiterlike ontwerpkenmerke van die jongste generasie Astra. Die dimensies is kolskoot en met kurwes, plooie en skerp lyne op die regte plekke tref die Grandland X visueel. Agter het die luikdeur ‘n treffende “knak” na binne, terwyl die skrefie-oog ontwerp van die metaalkleur uitlaatpype wat in die agterste buffer integreer, onmiddellik die oog tref.
Die tweekleur afwerking met die C-pilaar wat soos met die Crossland X, deur ‘n swart paneel geskei word om ‘n visueel “swewende” dak te skep, werk baie goed. Kopers van die Crossland X kan ook kies uit verskeie moderne kleure waaronder pers, kougom-blou asook ‘n treffende diep goud.
Die kajuit is uitstekend uitgelê, goed toegerus en het baie ooreenkomste met die jongste Opel Astra. Die materiale en vakmanskap is van ‘n goeie gehalte en skep ‘n duursame gevoel terwyl dit modern vertoon.
Aandrywing is deur die voorwiele en tans slegs met behulp van ‘n 1.6 liter turbo petrolenjin wat aan ‘n 6-gang outomatiese ratkas gekoppel is. Volgens Opel verkoop handratmodelle nie te waffers in hierdie segment nie, vandaar die besluit om slegs outomatiese modelle plaaslik beskikbaar te stel. Daar is egter ‘n topmodel 2.0 liter turbodiesel op pad wat vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.
Die 1.6 liter turbo is soortgelyk aan die wakker enjin wat tans in die jongste generasie Opel Astra beskikbaar is. Die enjin lewer piek verrigting van 121 kW en 240 Nm en is volgens Opel heel gemaklik in die groter Grandland X wat teen 1360 kg ‘n hele 100 kg ligter is as byvoorbeeld die VW Tiguan wat goed vaar met ‘n 1,4 liter turbo petrolenjin.
Opel SA bied egter drie afwerkingsvlakke naamlik, Basies, Enjoy en Cosmo en verkooppryse is as volg:
- Grandland X Basies R429 000
- Grandland X Enjoy R465 000
- Grandland X Cosmo R565 000
Ons kon nog nie die Grandland X bestuur nie, maar op die oog af vertoon die Grandland X baie goed. Die kompetisie in hierdie segment is egter uiters mededingend en my gevoel is dat die Grandland X se prys ‘n knerts te hoog is om die voorlopers in hierdie tawwe arena te troef. Tyd sal egter leer.